Die Taalmonument in die Paarl speel in die volgende maande gasheer vir heerlike vermaaklikhede.


Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) is 48 jaar jonk!

Kom vier dit saam met ons op ’n gratis dag van kultuur en natuur en plesier, ook vir die kinders. Ons bied boonop kursusse, pieknieks, ’n groot gospelkonsert en aandwedloop in die volgende paar maande aan.. Op 21 Oktober bied die ATM ’n gratis dag van pret en vermaak vir ’n ieder en ’n elk. Bring jou vriende, familie en ’n piekniek (of bestel vooraf by die Suikerkan) vir ’n heerlike fees in ons pragtige tuine. ’n Kulkunstenaar, gesigverf, springkasteel, speelparke en skattejag wag op die kinders, en tydelike uitstallings, ’n ikoniese beeldhouwerk, bistro en mooi vergesigte op die ouers. Om mee weg te spring, word ’n plesierige 5 km-pretloop om 08:00 gehou, waarvoor die top-50-deelnemers medaljes sal ontvang.. ’n Heerlike lenteaand op die beeldskone Paarlberg is die perfekte plek om die Volmaanpiekniek op Vrydag 27 Oktober te vier. Die pieknieks is baie gewild onder plaaslike inwoners én toeriste, wat veral die sonsondergang, pragtige tuine en onvergelykbare uitsig op die berge, valleie en die Skiereiland geniet.. Inwoners en besoekers sal die skitterende sterrehemel – spesifiek die planeet Saturnus – op Vrydag 4 November by die Sterrekykpiekniek van nader kan leer ken. Dit beloof om ’n feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees. Boonop is ’n pragtige sonsondergang en ’n gratis besoek aan die ikoniese beeldhouwerk ingesluit, én is die aand ten bate van ’n goeie saak.. As deel van die herdenking van die afskaffing van slawerny aan die Kaap, bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument asook die Historium Trust ’n gevorderde Arabies-Afrikaanse werksessie oor hierdie unieke skryftradisie aan. Die gewilde dr. Shamiega Chaudhari fokus Saterdag 25 November op die harakat, vokale en tweeklanke en ’n oorsig oor die bydrae van Arabies-Afrikaans en slawe tot die ontwikkeling van Afrikaans bespreek.. In November is die Taalmonument die gasheer vir seker een van die grootste gospelkonserte nog met onder andere Jonathan Rubain van Koortjies-faam en 18 ander sangers en groepe. In samewerking met Marco Mentoor en Chadleigh Gowar beloof hierdie spirituele sang-extravaganza om van Sondag 26 November ’n onvergeetbare middag in die amfiteater op Paarlberg te maak.

Met die toenemende uitdaging om die lewensgehalte van pasiënte met lewensbedreigende siektes, asook hul gesinne, te verbeter, is dit nou die tyd om draf-draf (of stap-stap) geld in te samel vir Drakenstein- Palliatiewe Hospies.

Boonop is talle geldpryse (vir spanne en klubs) en medaljes op die spel wanneer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), die Historium Trust, Drakenstein- Palliatiewe Hospies en Paarl Atletiekklub se pretbelaaide Aandwedloop, wat Woensdag 13 Desember op die beeldskone Paarlberg plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.