Verlede Woensdagmiddag het nog ’n waterpyp in die Bergrivier-boulevard in die Paarl, reg voor die verkeersafdeling, gebars en chaos tydens spitsverkeer veroorsaak. Dit was ook ’n klipgooi van ’n ander pyp wat vroeër vanjaar gebars en inwoners in die Devinestraat-gebied vir byna 24 uur sonder water gelaat het. In die jongste geval het herstelwerk dadelik begin en watertoevoer moes deur ander pyproetes herlei word, wat ’n laer druk in die sisteem veroorsaak het. Die plasing van terugvulmateriaal is nog nie voltooi nie, maar sodra dit afgehandel is, sal die pyplyn onder volle druk geplaas word. Die Drakenstein-munisipaliteit het op navraag gesê wanneer pype bars en die munisipaliteit daarvan in kennis gestel word, vind die herstelwerk van die gebarste pype altyd spoedig plaas. Die munisipaliteit het ook ’n pypvervangingsprogram wat jaarliks met die beskikbare kapitale begroting geïmplementeer word. Die munisipaliteit ondervind ’n toename in die diefstal van watermeters op private persele, wat bydra tot waterdrukprobleme en ongerief vir verbruikers veroorsaak.