Dis weer winter en waterblommetjiedamme pronk volop met dié liplekker kos. Binnekort – op 2 September – vind die jaarlikse waterblommetjiefees weer by die Windmeul-wynkelder en Rhebokskloof plaas. Mense wat meen hulle is bobaas-waterblommetjiekokke, kan gerus nader staan en vir die fees se gewilde waterblommetjie-potjiekoskompetisie inskryf. Die toegangsfooi van R200 per pot sluit ’n bottel Windmeul-wyn, 1 kg waterblommetjies, hout en ’n braaidrom in. Inskrywings sluit op 25 Augustus. Moenie uitstel as jy met jou potjie-vernuf vir die gesogte titel in aanmerking wil kom en boonop spog-regte as algehele wenner wil inoes nie. Kontak wines@windmeul.com vir besonderhede. Bo word waterblomme by Oudepont-plaas buite Wellington gepluk. Foto: Lise Beyers