Inwoners van Drakenstein kan ‘n sug van verligting slaak, nadat die Drakenstein-munisipaliteit die jare lange streng en duur waterbeperkings versag het na Vlak 0.
Vlak 0-waterbeperkings is so pas aangekondig en dit beteken kortliks inwoners kan nou weer hul tuine daagliks voor 10:00 en ná 16:00 natmaak, hul motors kan was en hul swembaddens met munisipale drinkwater kan aanvul.Hersiende watertariewe sal ook nou van krag wees wat broodnodige finansiële verligting vir inwoners en ondernemings gedurende die huidige moeilike ekonomiese tye sal bring.
Die vlak 0-beperkings is gister (28 Oktober) tydens ‘n raadsvergadering deur die burgemeester Conrad Poole goedgekeur en dadelik bewerkstellig.
“Danksy die goeie winterreën en aansienlik hoër damvlakke in die Wes-Kaap, het Drakenstein-munisipaliteit besluit om ons waterbeperkings tot vlak 0 te verlaag,” sê Poole. “Ons glo dat dit ons gemeenskap finansieel sal help aangesien baie mense en ondernemings ekonomiese probleme ondervind as gevolg van die Covid-19-pandemie- en inperkingsregulasies.”
Vanaf 1 November kan alle waterverbruikers in Drakenstein tuine, grasperke, blombeddings en ander plante, groentetuine, sportterreine, parke en ander oop ruimtes met munisipale drinkwater natmaak of besproei voor 10:00 en na 16: 00 daagliks. Hulle kan ook hul voertuie, motorfietse of motorbote, beweegbare of nie-beweegbare strukture, paadjies, sypaadjies en geplaveide gebiede was of spoel.
Die aanvulling of vul van swembaddens met munisipale drinkwater word toegelaat, maar slegs as die swembad toegerus is met ‘n niedeurlaatbare soliede swembadbedekking. Outomatiese swembadaanvullingstelsels word ook toegelaat.
Waterverbruikers moet daarop let dat alle boorgate in die munisipale waternetwerkgebied by die Drakenstein-munisipaliteit geregistreer moet wees.
Vanaf 1 November sal die nuwe vlak 0 (15% BTW uitgesluit) huishoudelike watertariewe vir residensiële verbruikers as volg wees:
• 0 tot 6 kl – R5,28 / kl (voorheen R6,71 / kl onder vlak 1)
• 6> tot ≤ 10 kl – R9,38 / kl (voorheen R13,67 / kl onder vlak 1)
• 10> tot ≤15 kl – R13,46 / kl (voorheen R17,92 / kl onder vlak 1)
• 15> tot ≤30 kl – R17,47 / kl (voorheen R23,24 / kl onder vlak 1)
• 30> tot ≤50 kl – R24,39 / kl (voorheen R32,44 / kl onder vlak 1)
• 50> tot ≤ 80 kl – R44,25 / kl (voorheen R58,85 / kl onder vlak 1)
• Bo 80 kl – R61,57 / kl (voorheen R 81,90 / kl onder vlak 1)
Die publiek en sakeondernemings word steeds aangemoedig om spaarsamig te werk te gaan met die gebruik van water asook om waar moontlik herwinde water te gebruik. Die gemeenskap word gevra om waterlekkasies in die retikulasie-stelsel dadelik by die munisipaliteit aan te meld by 021 807 4715 of die munisipaliteit se tolvrye nommer: 080 131 3553.