Gebiede soos Groendal, Langrug en Mooiwater in Franschhoek ervaar wateronderbrekings wat volgens die Stellenbosch-munisipaliteit aan langdurige beurtkrag toegeskryf kan word.Foto: Verskaf


Die Stellenbosch-munisipaliteit het aan inwoners in dele van Franschhoek, wat wateronderbrekings weens langdurige beurtkrag ervaar, die sekerheid gegee dat water wat deur tenkwaens voorsien word, veilig is om te drink.

Paarl Post het verlede week berig dat gebiede soos Groendal, Langrug en Mooiwater in Franschhoek by tye wateronderbrekings ervaar, wat volgens die plaaslike munisipaliteit aan langdurige beurtkrag toegeskryf kan word.

Die munisipaliteit het verlede week by navraag gesê drie kragopwekkers behoort teen die middel van Maart by hierdie betrokke gebiede se reservoir geïnstalleer te wees.

Tot dan sal die munisipaliteit watertenkwaens in die gebiede ontplooi. Inwoners is egter skepties oor die gehalte en veiligheid van dié drinkwater.

Die munisipaliteit het Dinsdag (27 Februarie) in ’n verklaring gesê hierdie water is getoets en is veilig vir menslike gebruik.

“Daar is geen feitelike basis waarop hierdie bewerings gemaak word nie aangesien die water gereeld deur toesighoudende owerhede, insluitend onafhanklike laboratoriums, getoets word. Dit is om te verseker dat die drinkwater aan alle veiligheidstandaarde voldoen,” het Stuart Grobbelaar, die munisipale woordvoerder, vandeesweek in ’n verklaring gesê.

Hy het bygevoeg dat bewerings op sosiale media – dat die water met kalksteen met ’n hoë swaarmetaaltoksisiteit asook arseen besmet is – onwaar is.

“Die munisipaliteit raai die verspreiding van onbevestigde inligting ten sterkste af. Kalksteen, wat gebruik word om water te stabiliseer, bevat nie skadelike swaar metale nie en is wêreldwyd ’n metode om korrosie van infrastruktuur te voorkom.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article