Water ’n wonderwerk by kinderhuis

Die bestuur van die Huis Andrew Murray vir sorgbehoewende kinders op Wellington droom al lankal van die dag wanneer die kinderhuis self in sy eie waterbehoeftes sal kan voorsien en heeltemal onafhanklik van munisipale water sal wees.


Die bestuur van die Huis Andrew Murray vir sorgbehoewende kinders op Wellington droom al lankal van die dag wanneer die kinderhuis self in sy eie waterbehoeftes sal kan voorsien en heeltemal onafhanklik van munisipale water sal wees.

Die kinderhuis is gróót. Dit bestaan onder meer uit 12 huiseenhede wat altesaam 150 kinders tussen die ouderdomme van 1 en 18 jaar huisves.

Verder het die kinderhuis elke dag baie water nodig – van skoonmaakdoeleiendes tot die voedselvoorbereiding en om in die kinders se basiese behoeftes te voorsien.

Op 6 Julie vanjaar het die droom om self hulle eie water te voorsien skielik waar geword toe ’n boormasjien wat deur ’n skenker geborg is, ’n tamaai ondergrondse aar raak geboor het.

“Die gat wat oop geboor is, het ons almal verstom,” het een van die HAM-bestuurslede die vertel.

“Oorspronklik het die boormasjien ver van die koshuise af langs ons sportgronde begin boor en baie gou water raak geboor. Die water was egter baie brak.”

Die span het besluit om ’n tweede gat, bo teen die bult en reg agter ons geboue te boor. Hulle moes glo deur soliede graniet boor maar op 150 m het die water skielik in ’n blink straal bokant die gat uitgeskiet.”

Die nuwe gat lewer nie alleen ’n oorvloed water nie, maar het die bestuur van HAM ook baie duisende rand bespaar deurdat dit nou nie nodig is om ’n lang, duur pypleiding aan te lê om die water by die kinderhuis se geboue te kry nie.

“Dit is ook skoon en vars. Ons is baie gelukkig.”

Volgens die bestuur van die kinderhuis bring die nuwe boorgat hulle nou baie nader aan die droom om self in al hulle waterbehoeftes te voorsien en gaan die water ook hulle help om kostes te bespaar.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.