’n Akwaponiese boerderyprojek is verlede week by Nederburg-plaas in die Paarl van stapel gestuur. Die projek sal sorg dat plaaslike inwoners bemagtig word en ook vars gekweekte kruie en spesialiteitslaaigewasse aan Nederburg se restaurant en ander verbruikers verskaf.
Akwaponika is ’n kombinasie van visboerdery en die kweek van gewasse, soos kruie en groente, in water in plaas van die grond. Die projek is omgewingsvriendelik en herwin ook water.
Die projek word gedryf en finansier deur Distell, wat Nederburg besit, en Mi-Crop Group Holdings. Distell verskaf die grond, water en elektrisiteit terwyl Mi-Crop die tegnologie, infrastruktuur, kundigheid en opleiding van personeel verskaf.
Distell se Charles Wyeth, waarnemende hoof van die maatskappy se volhoubaarheidsbedrywighede, het die aard van die projek verduidelik.
“Dieselfde watermassa word gebruik om met die vis en plante te boer. Baie van die visafval is voordelig vir die plante, maar om enige potensiële ammoniakopname deur die kruie en groente te vermy, word die water eers met bakterieë gesuiwer voordat dit in ’n hersirkuleringsproses vir die plante gevoer word.”
Deur dié proses hou die visse en die plante mekaar aan die lewe. As daar enige probleme intree, kan dit opgemerk word aan die plante of die visse. Wyeth voeg by dat die plan is om nog meer plaaslike wynplase en kleinskaalse Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB)-vennote te betrek, sodat die projek verder kan uitbrei en ook die betrokkenheid van swart boere insluit.
“Namate die projek groei, sal meer werknemers opgelei word om deel te neem. Ons voorsien dat sodra dit ten volle aan die gang is, ongeveer 10 bykomende werksgeleenthede by die Nederburg-spilpunt alleen geskep sal word. Met sy vermenigvuldigingseffek sal dit ’n broodnodige inspuiting in die plaaslike ekonomie verskaf.”
Voormalige seisoenwerkers word nou voltyds aangestel op die plaas wat nog ’n verdere hupstoot beteken vir die plaaslike ekonomie.
Christiaan Februarie (26) is een van ’n paar mense wat deel is van die projek en ook op Nederburg-plaas woon. Hy vertel hy het gesukkel om werk te kry toe die geleentheid oor sy pad kom en vir hom aangebied is.
“Ek is hier sedert die begin van die projek. Ek weet waar is elke pyp en wat gedoen moet word.
“Ons boere sukkel baie met water en gronde, so om plante op water te groei is eintlik vir my opwindend,” sê hy.
Maruis Conradie, uitvoerende hoof van Mi-Crop, voeg by: “Meer belangrik vir ons is om met tegnologie, en die vermoë om volhoubaar te kan boer, vir die toekoms van die land en die wêreld (om te gee), deur so ’n klein koolstofvoetspoor moontlik te veroorsaak deur plaaslike mense op te lei om uiteindelik oor te neem. Soos wat ons dan nou uitbrei na ’n volgende perseel, sodat hierdie mense (werknemers) self bestuur en aandele besit in hierdie projek.”
In die projek word deur die hele jaar geboer met forel-visse en verskeie soorte kruie en groente soos tiemie, kruisement, basiliekruid, koljander, babaspinasie, roket en eksotiese blaarslaai. Die visse, kruie en groente word omskep in heerlike disse wat beskikbaar is op The Manor-restaurant, op Nederburg-plaas, se spyskaart.
- An aquaponic farming project was launched last week at Nederburg farm in Paarl. The project will empower local residents and also provide Nederburg’s restaurant and other distributors with freshly grown herbs and specialty salad crop.


