Die departement van gesondheid deel bewusmaking oor een van die wêreld se top- dodelike en aansteeklike siektes, naamlik tuberkulose (TB), wat soms só aggressief is dat sommige pasiënte middelweerstandig word.
Met ander woorde, pasiënte wat aan middelweerstandige TB (DRTB) ly, het sterker en groter dosisse van minstens 20 pille per dag se behandeling benodig om die siekte te beveg.
Die departement se Kaapse Wynlanddistrik-woordvoerder, Sandra Maritz, vertel Paarl Post hoe middelweerstandige TB veroorsaak word.
“Wanneer iemand vir TB behandel word, te vroeg ophou om hul medikasie te neem of hul medikasie nie reg neem nie, word al die TB-kieme nie doodgemaak nie, en kan middelweerstandige TB (DRTB) ontwikkel.
“ ’n Persoon kan ook deur DRTB aangesteek word by iemand anders. Dit is moeiliker om hierdie TB-kieme dood te maak en die persoon sal waarskynlik vir een tot twee jaar medikasie moet neem as deel van hul behandeling, afhangend van die soort DRTB.”
Maritz verskaf statistieke oor plaaslike gevalle van TB.
“Teen 17 Oktober het bykans 2 300 mense in die Drakenstein-vallei TB gehad en 75 middelweerstandige TB (in Engels drug resistent TB), ook bekend as DRTB. In die hele Wes-Kaap het sowat 49 400 mense TB gehad, en 1 323 mense DRTB.”
Sy sê TB is steeds ’n realiteit.
“Baie mense verkeer onder maatskaplik-ekonomiese druk. Dit is algemeen dat baie mense in een huishouding saam woon en nie genoegsame voeding het nie. Faktore soos hierdie verhoog die risiko vir TB om te versprei.”
Voorkoming is beter as behandeling en TB kan voorkom word, sê Maritz. “Ons moet dus proaktief wees.”
. Maak seker jou kind kry die BCG-inenting by geboorte, en neem jong kinders vir hul gratis immuniserings by die naaste kliniek. Dit help hulle om gesond te bly, te groei en ernstige siektes soos TB te kan teenstaan.
. Sorg dat daar altyd vars lug is (maak deure en vensters oop), en
. Neem jou medikasie soos voorgeskryf.
TB kan voorkom én behandel word, maar vir baie mense is dit ’n uitdaging om hul behandeling te voltooi.
“Die behandeling kan oor maande strek, en maatskaplik-ekonomiese uitdagings maak dit dikwels moeiliker vir die pasiënt om hul behandeling te voltooi.”
Ongelukkig, meen Maritz, het TB-medikasie dikwels newe-effekte.
“Goeie voeding help jou liggaam om medikasie beter af te breek en beter op te neem. Indien veral DRTB-pasiënte nie voedsame kos inneem tydens hul behandeling nie, kan hulle erger newe-effekte van die medikasie ervaar.
“Dis egter baie belangrik dat jy aanhou om jou medikasie te neem, al laat dit jou moontlik sleg voel. As jy voor die tyd ophou met jou behandeling, kan jy nie net DRTB aan ander mense oordra nie, maar jy kan doodgaan.”
Die departement vra dat mense wat moontlik opgehou het om hul TB-medikasie te neem voordat ’n gesondheidswerker so aangedui het na hul naaste kliniek terugkeer.
“Ons personeel sal jou graag help om weer met behandeling te begin. As jy uitdagings het met die neem van jou medikasie, kan ons jou ondersteun deur tuisbesoeke te doen – vra gerus oor hierdie diens.”
Maritz lê sterk klem daarop dat indien iemand in ’n huishouding TB het, maar nie medikasie neem nie, stel so ’n persoon ander in gevaar.
“As jy simptome het soos hierdie vra ons dat jy na jou naaste kliniek gaan.”
. Ernstige sweet snags.
. ’n Hoes wat nie weggaan nie.
. As jy nie eetlus het nie.
. As jy gewig verloor en heeltyd moeg voel.
. As daar bloed in jou hoes is, en
. As jy in kontak was/is met iemand wat TB het.

