Huiseienaars wat sonkragstelsels oprig, kan ’n stewige boete van die munisipaliteit verwag indien hulle nie die nodige munisipale goedkeuring hiervoor ontvang het nie.Foto: Ter illustrasie


Nuwe regulasies het op 1 Julie in werking getree, wat ’n groot uitwerking op sonkraginstallasies in die Drakenstein- munisipale gebied gaan hê. Daarmee gepaard kan huiseienaars wat nie aan hierdie regulasies voldoen nie, ’n stewige boete opgelê word.

Ongelukkig is baie installeerders, elektrisiëns en huiseienaars onbewus van hierdie veranderinge, wat tot groot probleme kan lei. Dit is dus noodsaaklik om op hoogte te wees van die wetlike vereistes.

Een van die belangrikste reëls is dat sonpanele nie op asbesdakke aangebring mag word nie. Asbesdakke is verouderd en daar is streng reëls oor hoe dit vervang moet word. Baie mense besef ook nie dat hul asbesdakke – teëldakke en dakplate – binnekort volgens wetgewing vervang moet word. Daar mag geen boorwerk op asbesdakke gedoen word nie en enige installasie van sonpanele op so ’n dak is verbode.

Die Drakenstein-munisipaliteit pas ook nuwe regulasies toe, maar kommer heers dat sommige inwoners die wetgewing ontduik en steeds onwettige installasies doen. Huiseienaars wat aan die regulasies voldoen, word gereeld deur die munisipaliteit besoek om te verseker dat hul installasies wettig is. Tog kla sommige inwoners dat van hul bure steeds onwettige strukture oprig – sonder enige nagevolge vir hulle.

Vir huiseienaars wat reeds sonkragstelsels het, of wat daarvoor beplan, is dit belangrik om te weet dat alle nuwe en bestaande installasies deur die munisipaliteit goedgekeur moet word.

Hierdie goedkeuringsproses is omvattend en sluit verskeie elemente in, insluitend die indien van bouplanne en die inspeksie deur professionele elektrisiëns en strukturele ingenieurs.

Die regte professionele mense moet gebruik word om te verseker dat die installasie wettig en veilig is.

Die munisipaliteit bied tans ’n grasietydperk aan vir die wettiging van bestaande installasies, maar wanneer hierdie tydperk verby is, sal boetes gehef word. Hierdie boetes kan duisende rande beloop omdat onwettige installasies as onwettige elektriese koppelings beskou word.

Dit is belangrik om te onthou dat die wettiging van ’n sonkragstelsel nie net ’n sertifikaat van voldoening (COC) behels nie. Die stelsel moet ook by jou versekering geregistreer word. Indien daar byvoorbeeld ’n brand ontstaan as gevolg van die stelsel en dit blyk dat die installasie nie aan alle wetlike en munisipale regulasies voldoen nie, kan jou versekering ’n eis weier.

Die Drakenstein-munisipaliteit het ook ’n nuwe beleid wat vereis dat alle nuwe installasies sowel as steeds bestaande installasies van sonkrag met slimmeters werk. Hierdie meters vervang die bestaande voorafbetaalde kragmeters, aangesien dit beter met sonkragstelsels saamwerk.

Selfs huise wat nie voorafbetaalde kragmeters het nie, maar die gewone kragmeters wat maandeliks betaalbare krag meet, gaan almal ook die nuwe slimmeter moet kry om beter met die sonkragstelsel te kan funksioneer.

’n Slimmeter stel jou ook in staat om oortollige energie terug in die netwerk te stuur en krediet op te bou, wat jou toekomstige elektrisiteitsrekening kan verlaag.

Huiseienaars het nog tyd om seker te maak dat die installasie wettig is, maar hulle moenie wag nie.

Maak seker dat jy voldoen aan al die regulasies om toekomstige probleme te vermy.

You need to be Logged In to leave a comment.