Nadat die VF Plus Drakenstein al jare lank die stryd voer in die vallei oor die agteruitgang van veiligheid hier en die daaglikse tendens van wetteloosheid wat seëvier, was daar ’n oomblik van blydskap toe die Drakenstein-munisipaliteit uiteindelik die lig gesien het met die skep van ’n nuwe uitvoerende direkteurspos, die van Openbare Veiligheid.

Die VF Plus het die voorstel vir die aanstelling van die voorkeurkandidaat op 31 Julie met voorbehoude ondersteun en die bona-fides van die stadsbestuurder aanvaar, maar net toe die nuwe uitvoerende direkteur met sy amp moes begin, ene Raymond Esau, het hy op die nippertjie onttrek en die hele proses moet nou weer begin om ’n geskikte kandidaat te vind, wat waarskynlik maande gaan duur.

Openbare veiligheid het die afgelope 10 jaar net eenvoudig verswak in Drakenstein en hierdie is ’n uiters belangrike situasie vir elke inwoner.

Die VF Plus wou dus weet waarom Esau nie die pos aanvaar het nie aangesien hy hoog aangeslaan is as die regte kandidaat. Die VF Plus het ook navrae gerig en self ondersoek ingestel na die aangewese kandidaat en na ons mening was hy nie die geskikte kandidaat vir hierdie pos nie. Onthou: Die salaris verbonde aan die pos is R1,6 m. per jaar en toe kibbel hy oor die R1 900 per jaar selfoontoelae teenoor die R8 000 per jaar wat hy tans ontvang!

Die probleem met wetstoepassing, verkeer, ens. kom al sedert 2014 aan en die VF Plus het dus die nuwe uitvoerende direkteurspos verwelkom wat al sewe jaar gelede ingestel moes gewees het. In die VF Plus-manifes in 2021 het ons die verwaarlosing van wetstoepassing reeds uitgewys. Die VF Plus skryf dit toe aan swak politieke leierskap.

Daar is duidelik by die munisipaliteit ’n probleem op senior bestuurs- en toesighouersvlak, gesien in die lig van wetstoepassingslede wat in bondels stap van sewe tot agt en heeltyd op selfone besig is, sonder die toepassing van dissipline.

Die VF Plus het ook sy bedenkinge oor die instansie wat die werwings-proses hanteer het vir die aanstelling van die nuwe uitvoerende direkteur – watter ondervinding het hulle in openbare veiligheid en sekuriteit en is ander eksterne instansies ook genader wat uitlopende kennis het op die gebied van veiligheid en sekuriteit? Daar is bitter min inligting oor hulle beskikbaar. Die feit dat hulle ook ’n tweede, derde en vierde applikant aanbeveel het, maar toe weer skielik aangedui het dat hulle nie meer geskik is vir die pos nie, laat ook rooi ligte flikker oor hoe goed hulle mense kan evalueer vir so ’n pos.

Is daar scenario’s geskep tydens die onderhoude om te kyk hoe die moontlike nuwe direkteur probleme sal hanteer en oplos – nie voorleggings gemaak nie? Die tipe scenario’s behoort geskep te word wat daagliks in Drakenstein plaasvind wat wetstoepassing, sekuriteit en verkeer betref.

Hierdie pos is nie ’n kantoorpos nie, die persoon moet op grondvlak wees en verkieslik uit die uniform-kultuur kom en nie net papierwerk gedoen het nie. Die sogenaamde HQF8-kwalifikasie- vereiste teenoor wetlike kennis is belangrik, maar jy hoef nie ’n prokureur of advokaat te wees wat veiligheid en sekuriteit betref nie. Die geskikte kandidaat, verkieslik uit die uniform-kultuur, moet ’n doener wees wat veiligheidsbeplanning kan doen, lede kan motiveer, optree teen swak dienslewering, dissipline kan afdwing en nie ’n pencil pusher wees nie.

Die persoon moet kan inskakel en saamwerk met huidige veiligheids-netwerke tussen die SAPD, gemeenskapspolisieforums, buurtwagte, veiligheidsgroepe en sekuriteitsmaatskappye.

Die VF Plus voel dat daar nie oorhaastig ’n persoon aangestel moet word – head hunting van die eerste aard – net om die pos te vul nie.

Die regte persoon moet aangestel word, want hy gaan verskeie skoene moet vol staan.


Andre Foure en Stefan Landsberg, VF Plus,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.