’n Skouspel van rugby het Saterdag (26 November) in Boland-stadion in Wellington plaasgevind toe die halfeindrondes van die Groot Uitdaagbeker-reeks hier gespeel is.
Rugbyondersteuners het behoorlik ’n fees van rugby aanskou met die halfeindrondes van die Top-12, Top-14 en Top-18. Hiertydens het die streek se topspanne dit uitgespook om ’n plek in die komende naweek se eindronde los te speel. En weer eens is bewys watter geweldige talent daar in klubrugbyspanne van die Weskus, Boland en die Overberg is.
Die Drakenstein-vallei se Young Warriors was die enigste span van die gebied wat ’n plek in die eindrondes bespreek het, toe hulle hul Top-18-halfeindstryd teen Worcester se Primrose-span met 36-31 gewen het.
Die eindronde word Saterdag (3 Desember) in Boland-stadion gespeel:
Top 18: Young Warriors (Sentraal) t. Alberts; Top 14: Riviersonderend t. Bonnievale Blue Birds; Top 12: Saldanha Baai t. Bella Vista.


