Die landbousektor is vuisvoos.

Reusagtige bedryfskostes met onder meer die baie hoë brandstofprys wat elke aspek van hul produksie raak, en hoë minimumlone knou hul lewensvatbaarheid erg.

Elke stukkie metaal word van plase gestroop en as skroot verkoop, en dan vrees boere alewig geweldsmisdaad asook onwettige grondbesettings, om nie eens beurtkrag te noem nie.

Hierdie is maar net ’n paar voorbeelde van waarom die landboubedryf deesdae na ’n minder gesogte beroep lyk en talle jongboere nou verkies om groener weivelde elders te soek.

Deesdae word selfs vrugtebome gesteel en wingerde verwoes. Kan ’n mens so ver gaan om dit sabotasie te noem?

En tussen al die geweldige uitdagings waarmee die landbousektor op ’n daaglikse basis die stryd moet voer, rep die regering nie ’n enkele woord oor die skandalige optrede van enige misdaad teenoor die bedryf nie.

Dit gaan ’n mens se verstand te bowe hoe die leiers van die land hierdie krisis kan ignoreer wat ’n reuse-uitwerking op elke landsburger se menswees kan hê. Hieroor sien ons reeds hoe voedselpryse die hoogte in skiet.

En wat gaan gebeur wanneer die landbousektor eendag besluit genoeg is genoeg en boere draai hul krane toe, en ons kosrakke raak byvoorbeeld leeg?

Sal die regering dan eers dalk wakker skrik?

You need to be Logged In to leave a comment.