Die Wamakersvallei-opleidingsentrum het verlede week hul mees onlangse sertifikaatplegtigheid op Wellington gehou.
Hierdie onafhanklike Wellingtonse opleidingsentrum het oor die afgelope sestien jaar honderde jongmense gehelp om hulle ná skool vir beroepe in tuisversorging, die gastehuisbedryf en in kleuter-en babasorg op te lei.
Dianne Arendse van die Paarl is by die geleentheid aangewys as Wamakers se topstudent van die jaar.
’n Groot groep studente het by die sertifikaatplegtigheid sertifikate ontvang nadat hulle die kursus in baba- en kleutersorg suksesvol voltooi het.
Gedurende die kursus wat deur deur Emmie Malan en Marie Schmidt aangebied is, het die studente hulle bekwaam in vakke soos die maak van hulpmiddels om babas te stimuleer, hoe om gedragsafwykings by babas te hanteer en om baba-gebaretaal te verstaan.
Een van die nuutste studierigtings wat deur Wamakers aangebied word in samewerking met Unisa, is ’n bak-kursus. ’n Lektrise van Unisa word spesiaal na Wellington gestuur om die kursus by Wamakers aan te bied. Hierdie baie gewilde kursus berei studente voor om in die gasvryheidsbedryf te werk of om selfs hul eie besigheid van die huis af te bedryf.
Studente kan ook ’n spesiale kursus om hulle as salonassistente te bekwaam by Wamakers volg. Die kursus word aangebied deur Antoinette Coetzee van Salon Scissors van die Paarl en die kursus word deur die personeel van Wamakers bestempel as ’n uitstaande voorbeeld van hoe ’n sakeonderneming betrokke kan raak by ’n opleidingsinstansie soos Wamakers om ’n gemeenskapsbydrae tot werkskepping te maak.
Ander salonne begin toenemend by Wamakers navraag doen om studente wat hierdie kursus sukses voltooi het, in diens te neem.
’n Nuwe kursus, ontvangsdame 100, wat slegs twee dae duur, word ook nou aangebied Die kursus is spesiaal gerig op matrikulante wat aan die einde van hul skoolloopbaan na ’n kursus soek wat hulle sal help om hulle beter voor te berei vir die arbeidsmark.
Die sentrum is tans gesluit vir die skoolvakansie en open weer op 11 Januarie aanstaande jaar.
Navrae kan intussen per e-pos gerig word aan elsabe@wamakerstraining.org.za