Die Wamakersvallei-opleidingsentrum 21 jaar gelede.Foto:


Wellington is geseën met ’n gevestigde en bekostigbare markverwante opleidingsentrum. Die sentrum is geleë in ’n historiese gebou wat ’n uitvloeisel was van die invloed wat dr. Andrew Murray in Wellington en op opvoeding in Suid-Afrika gehad het.

Die sentrum bied opleiding aan halfgeskoolde mense uit die voorheen­benadeelde sosio-ekonomiese gemeen­skappe.

Die aankoms van dr. Murray in Wellington in 1871 het ’n nuwe era aangekondig. Dr. Murray was die inspirasie agter die stigting van die Hugenote Seminarie vir die opleiding van meisies. Dit het die hoeksteen van opvoeding in Suid-Afrika gelê.

Dr. Murray se invloed het egter nie daar gestop nie – hy het ook besef dat daar ’n spesifieke gebrek aan geestelike opleiding was. Dit het gelei tot die oprig­ting van Samuel (die gewese sendeling-instituut op Wellington) en die opleiding van sendelinge en predikante in Welling­ton. Die gebou op die foto het tot stand gekom om voorsiening te maak vir die opleiding van anderskleurige sendelinge en predikante. Dit was vir Wellington ’n hartseerdag toe die teologiese opleiding na Stellenbosch verskuif het.

Hierdie ou Sendingskool is later verander om voorsiening te maak vir die huisvesting van die Wamakersvallei-opleidingsentrum.

Wamakers se missie is om voorsiening te maak vir die voortbestaan van die gees van dr. Andrew Murray deur die opleiding van werkloses en benadeelde mense uit die gemeenskap en om hulle so toe te rus met die nodige vaardighede om hulle te bekwaam om tot die arbeids­mark toe te tree. Klem word gelê op dié vaardighede wat mense in staat stel om hul dienste as entrepreneurs beskikbaar te stel.

Die Wamakersvallei-opleidingsentrum is ’n gemeenskapsgeleentheid vir talle. Meer as 4 000 studente het reeds gekwalifiseer, waarvan meer as 80% werk gekry het en in diens geplaas is. Hierdie toetrede van die studente tot die arbeidsmark het talle reeds bemagtig om ’n salaris te verdien en ’n positiewe impak binne hul eie gemeenskappe te hê.

Die Wamakers-opleidingsentrum is op 5 Mei 1998 deur ’n entoesiastiese aksie­komitee bestaande uit mevv. Iréne de Waal, Marietjie Slabbert, Antoinette Labuschagne, Hester Veldsman, Kaatjie Williams, Cloeté Fourie en Hetta Grobbelaar en mnr James Colling gestig.

Instansies soos Silwerkruin, Sunfield Home, HAM en die Fyngoud-dienssentrum maak hul hart oop vir die praktiese opleiding in versorging. Restaurante en kleuterskole bied hulle fasiliteite aan vir kindersorg en spyseniering.

Ook werklose mans kry die geleentheid om opleidingskursusse by te woon, soos byvoorbeeld tuinbou en die herstel van elektriese toerusting, ens.

Die onrusbarende getal werkloses in Suid-Afrika veroorsaak groot kommer en lei tot misdaad, drankmisbruik, dwelm­misbruik, aanranding en die mishandeling van vroue en kinders. Ons vallei loop tans deur onder misdaad en wangedrag, straatmense is oral te sien en werkloosheid is algemeen.

Wamakersvallei bied ’n positiewe oplossing tot hierdie probleme deur:• Opleiding aan te bied aan die groter Drakenstein-omgewing en omliggende dorpe;• Individue word bemagtig om die werkersmark met hul vaardighede te kan betree en markverwante salarisse te verdien. Hulle genereer dus ’n inkomste en raak selfonderhoudend;• Individue word aangemoedig en voorberei om selfstandig en gesond te leef;• Mense word bemagtig ten opsigte van lewensvaardighede, HIV/vigs, dwelms, alkoholmisbruik en swangerskap;• Ook pastorale sielkundige diens aan studentete bied. Hulle word dus bemagtig om hul eie gesinne en ander individue in moeilike omstandighede te kan help.

Wamakersvallei se opleiding is holisties, markverwant, behoefte gedrewe en word deur die gemeenskap ondersteun. Nuwe kursusse word dikwels ontwerp om nuwe geleenthede in die werkersmark te vul.

Hoekom is Wamakers suksesvol?• Wamakersvallei-opleidingsentrum verskaf nie net ’n platform aan studente vir verdere opleiding nie, maar verseker ook ’n veilige gemeenskap.• Studente vind weer hoop vir die toekoms nadat hulle ’n kursus by Wamakers gedoen het. Hulle raak weer betrokke by hul families en die wyer gemeenskap.• Werkloosheid word in ’n groot mate die hoof gebied.• Wamakers dra by tot die maat­skaplike welstand van die gemeenskap.• Ongeveer 300 entrepreneurs betree jaarliks die arbeidsmark.

Soos baie ander organisasies, gaan hierdie ikoon in ons gemeenskap gebuk onder ’n gebrek aan finansiering. Is daar dalk iemand wat graag ’n student wil borg of veilige huisvesting kan aanbied?

Ons salueer die baanbrekers wat hierdie organisasie in die lewe geroep het en ons wens die huidige fasiliteerders en personeel geluk met die “mondigwording” van hierdie wonderlike organisasie.

Mag hul voortgaan om hul diens aan die gemeenskap te bied.

You need to be Logged In to leave a comment.