Meer as 5 500 werklose mense het die afgelope 18 jaar kursusse by die Wamakervallei-opleidingsentrum op Wellington voltooi.
Hierdie kursusse het elkeen van hierdie groot aantal studente in staat gestel om vandag ’n splinternuwe loopbaan met groot sukses te volg.
Die Wamakersvallei-opleidingsentrum is in 1998 deur Irene de Waal en ’n spannetjie toegewyde fasiliteerders gestig om veral werklose huisvroue in en om Wellington te help om hulle deeglik vir loopbane in tuisversorging, babasorg en kleutersorg voor te berei. Hulle pogings is van die eerste dag af met groot sukses beloon. Kursusgangers het in kursusse van ses tot agt weke intensiewe opleiding by die sentrum ontvang.
Die kursusse is mettertyd uitgebrei om ook kursusse in skoonheidsorg en kookkuns in te sluit. Die fasiliteite wat gebruik word het die inname van voornemende studente beperk tot vier innames per jaar, en ’n raps meer as 70 studente kan elke kwartaal hulle onderskeie kursusse deurloop.
“Daar is ’n groot aanvraag na ons studente by veral bejaardesorg-inrigtings, kleuterskole en in die gasvryheidsbedryf,” sê Elsabe Lintveldt, die huidige bestuurder van die sentrum. “Ons is ook voortdurend besig om nuwe loopbaangeleenthede vir ons studente te skep, soos die nuwe kursus vir skoonheidsalon-assistente waarmee ons onlangs begin het.”
Volgens Elsabe is Wamakers se kursusse in tuisversorging, babasorg en kleutersorg op die oomblik die gewildste onder die kursusse wat aangebied word.
Elke kursus lewer voortdurend ’n stroom suksesverhale op.
Die verhaal van Prudence Small, ’n jong, werklose van Wellington wat in die beginjare van die sentrum ’n kursus in kleutersorg kom volg het, is ’n goeie voorbeeld van hoe hierdie kursusse iemand se lewe dramaties en positief kan verander. Prudence het nadat sy haar kursus voltooi het, werk as au pair by ’n egpaar in Florida in die VSA gekry. Sy het ’n paar jaar lank die egpaar se spannetjie kleuters versorg en vakansietye saam met die gesin Amerika platgereis. Sy het later na Suid-Afrika teruggekeer en ook hier ’n suksesvolle loopbaan in kleutersorg begin volg.
Enkele jare gelede het sy as ’n inspirerende gasspreker by een van Wamakers se sertifikaat-aande opgetree en haar suksesvolle loopbaan volledig aan die puik opleiding wat sy by Wamakers ontvang het, toegeskryf.
Daar is baie van Wamakers se studente wat sulke suksesverhale kan vertel. ’n Baie groot aantal, veral die wat die verpleegkursus in tuisversorging gevolg het, het hulle sertifikate gebruik om die deur te open na verdere studie en sodoende gegroei tot gekwalifiseerde verpleegsusters wat deesdae suksesvolle loopbane by die land se groot hospitale volg.
Kursusse wat gevolg kan word by Wamaker sluit onder meer bejaardesorg, baba- en kleutersorg, en huisbestuur, in.