Altesaam 165 nuwe studente – ’n rekordgetal – is die afgelope jaar by die Wamakers-opleidingsentrum in Wellington opgelei.
Van hierdie nuwe studente het altesaam 56 hul opleiding in kindersorg ontvang. Dit was ook die grootste klas van die jaar.
Benewens die gewone kursusse het Wamakers ook ’n aantal kort kursusse aangebied wat baie gewild was.
Altesaam 185 studente het opleiding in die kort kursusse ontvang. ’n Groot aantal is in die nuwe kursus vir ontvangsdames opgelei. Kort kursusse is ook vir higiëne en voeding in crèches sowel as kinder- en plaasveiligheid aangebied.
Twaalf studente het die kursus in noodhulp voltooi.
Madelein van der Merwe, wat by die bekende Cummings-gastehuis op Wellington werk, het die kursus vir ontvangsdames ontwikkel en aangebied. Altesaam 14 studente het dié nuwe kursus bygewoon.
Die student van die jaar is Venetia Morrily. ’n Potensiële student van die jaar word elke kwartaal aangewys en Venetia is uiteindelik uit die vier as die sentrum se student van die jaar aangewys.
Die gassprekers was ’n aantal oudstudente van Wamakers: Jeremy Adams wat Wamakers se tuisversorgingskursus voltooi het en nou as versorger in ’n private huishouding in Wellington werk, Cathleen Blankenberg wat voorheen die tuisversorging gedoen het en pas as verpleegkundige gekwalifiseer het en Christina Klaasen, ’n onderwyseres by Soetendal Skool, wat pas haar opvoedkundekwalifikasie by KSUT voltooi het nadat sy kindersorg by Wamakers en daarna by Boland Kollege geleer het.
Volgens Elsabé Lindtveldt, die hoof van Wamakers, is ’n groot aantal studente hierdie kwartaal geborg. Die ontvangsdames en sommige van die ander tuisversorgers en kindersorgstudente is deur Valcare geborg. Hierdie studente het almal die lewensvaardigheidsprogram (Pop-up) gedoen voordat hulle by Wamakers ingeskryf het. Higiëne en voeding in crèches en kinderveiligheid is eendagkursusse wat vanjaar nuut ontwikkel is en is deur Ranyaka geborg.
Die kursus in noodhulp is deur die Wynland-distriksmunisipaliteit geborg. Dié kursus is ook vir oudstudente aangebied omdat noodhulp die kursus vir tuisversorging aanvul en dit ook ’n geakkrediteerde kursus is.
Borgskappe is ook van sommige van die plaaslike munisipale wyke ontvang.
Lindtveldt sê die plaaslike munisipaliteit het ’n spesiale pluimpie verdien omdat hulle so ongelooflik ondersteunend is wat die instandhouding van die gebou wat Wamakers se opleidingsentrum by hulle huur, betref.
“Ons is baie dankbaar daarvoor. Daar is ook baie ander professionele mense en ondernemings wat by Wamakers betrokke is en dit is juis dít wat die sentrum so suksesvol en gewild in die plaaslike gemeenskap maak,” sê Lindtveldt.