Prudence Small van Wellington is ’n uitstekende voorbeeld van hoe Wamakersvallei Opleidingsentrum se puik, beroepsgerigte kursusse ’n jong skoolverlater kan help om ongekende hoogtes in ’n nuwe beroep te behaal.
Prudence, wat Wamakers se kursus in Tuisversorging gevolg het, se eerste pasiënt was ’n kwadrupleeg wat naby Kaapstad gewoon het. Prudence moes haar dag en nag versorg en bystaan.
Na twee jaar het ’n bekende werkverskaffersorganisasie haar gehelp om werk in Amerika te kry.
Aanvanklik het sy daar ’n outistiese seuntjie versorg. Daarna het sy ’n pos as au pair in Florida gekry waar sy twee dogtertjies moes versorg. Die een dogtertjie was slegs drie maande oud en haar sussie drie jaar.
“By hierdie huisgesin het my loopbaan letterlik geblom,” vertel Prudence.
“Ek moes wel drie tot vyf keer per nag opstaan om die twee kleuters behoorlik te versorg, maar hulle ouers het my onmiddellik laat voel soos een van die huisgesin. Ek het vakansietye saam met hulle oral in Amerika en tussen die Wes-Indiese Eilande rondgereis en die wêreld leer ken. Na twee jaar het hulle my gehelp om na Suid-Afrika terug te keer vir ’n kort vakansie en om my visum te hernu.
“Die ouma van die dogtertjies, wat toevallig ook ’n Suid-Afrikaner is, het in daardie tyd, toe my mense in Suid-Afrika ’n huis in Wellington gekoop het, ons van onskatbare praktiese raad bedien wat baie gehelp het om die transaksie vinnig en netjies af te handel.”
Prudence is weer terug na Amerika, maar na meer as vier jaar het die verlange na haar mense en haar land die oorhand gekry. Sy het besluit om permanent huis toe te kom.
“Ek en die Amerikaanse gesin is nog steeds boesemvriende. Hulle was sedertdien al vier keer in ons land. Twee keer het hulle in Durban vakansie kom hou en dan het hulle ’n vliegtuigkaartjie vir my gereël sodat ek daar saam met hulle kon vakansie hou. Hulle was ook twee keer in die Boland en elke keer het ons saam gekuier – onlangs was hulle hier in Wellington om my mense te ontmoet.”
Haar wye werksondervinding het gesorg dat sy vandag ’n puik adminis-tratiewe betrekking beklee. Sy skryf die sukses wat sy tot dusver behaal het uitsluitlik toe aan die opleiding wat sy by Wamakers ontvang het. Volgens haar het Wamakers op ongekende wyse haar horisonne verbreed en gehelp om selfstandig in die lewe op te tree.


