’n Sekuriteitswag van Franschhoek is onlangs in hegtenis geneem in verband met die ontvoering van ’n gesin van Kuilsrivier.
Die gesin is in Augustus ontvoer terwyl hulle onderweg was na die Helderstroom-gevangenis in Caledon, waar die pa as ’n bewaarder werk.
AO Zinzi Hani, ’n woordvoerder vir die Valke, het verlede maand die inhegtenisneming van ’n man (34) wat met die misdaad verbind word, bevestig.
“Die ontvoerders het ’n losprys van R100 000 per persoon – altesaam R400 000 – van die gesin se broer geëis. Hulle het hom opdrag gegee om te betaal en nie die polisie te betrek nie,” sê Hani.
Hoewel die losprys nie betaal is nie, is R16 000 uit die gyselaars se rekening na die ontvoerders oorgeplaas. Die gesin is drie dae ná die ontvoering naby ’n vulstasie in Philippi-Oos in Kaapstad vrygelaat. Hul motor is in Endlovini verlate aangetref.
In die jongste verwikkelinge van die saak het die Valke se ondersoekspan vir ernstige georganiseerde misdaad, beamptes van die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad, ’n gyselaarsonderhandelingspan en misdaadintelligensie gereageer op ’n wenk dat die gesin tydens die ontvoering by die veiligheidswag se huis aangehou is.
Volgens Hani is die huis in die Samora Machel- informele nedersetting na bewering as ’n “plek van veiligheid” (safe house) vir die gyselaars gebruik.
Die 31-jarige sekuriteitswag het verlede week die eerste keer in die Paarl-landdroshof op aanklagte van ontvoering en afpersing verskyn.
Dit volg ná twee ander onverwante ontvoeringsdramas wat onlangs in die Wynlande afgespeel het.
’n 20-jarige student van die Universiteit Stellenbosch is op 3 Oktober in die vroeë oggendure in die hartjie van Stellenbosch ontvoer.
Haar ontvoerders het ure lank met haar in hul motor rondgery, geld uit haar bankrekening onttrek asook haar ouers gebel en op ’n losprys aangedring voordat die student vrygelaat is.
Twee verdagtes, onderskeidelik 24 en 25 jaar oud en albei van Zimbabwe, is in hegtenis geneem en het in die landdroshof in Stellenbosch in verband met die Matie se ontvoering verskyn.
Hulle word aangekla van onder meer ontvoering, afpersing en die oortreding van die immigrasiewet.
In ’n ander onverwante voorval is ’n 85-jarige Britse toeris wat in Robertson ontvoer is, op 4 Oktober ongedeerd, maar getraumatiseer, in ’n sinkhuis in Zwelethemba, Worcester, gevind.