’n Gesin van Klein Parys in die Paarl betreur die dood van ’n vader en eggenoot nadat Alfons Kakwata (47), ’n veiligheidswag, Sondag (7 April) tragies omgekom het toe ’n boom op hom geval het terwyl hy besig was om patrolliewerk in die stormsterkwind by ’n wynlandgoed in Wellington te verrig.
Wat Kakwata se dood meer hartseer maak, is die feit dat hy en sy vrou vandeesweek hul 14de huweliksherdenking sou vier, het sy vrou, Katriena, aan Paarl Post gesê.
Kakwata is Sondagoggend op slag dood toe ’n bloekomboom op hom geval het tydens patrolliewerk op ’n vierwielmotorfiets by die Diemersfontein-wynlandgoed in Wellington. Hy was ’n veiligheidswag en hondehanteerder vir Thornborn Security Solutions.
Die voorval het omstreeks 09:00 in Jan van Riebeeckweg plaasgevind, toe verskeie dele van die Drakenstein-vallei stormsterkwind ervaar het, het ’n bron by die plaaslike nooddienste aan Paarl Post gesê.
“Hy het volgens gerugte met ’n vierwielmotorfiets langs die draad gery om seker te maak dat alles nog in orde is. Dit was ’n geval van op die verkeerde tyd op die verkeerde plek – die wind waai toe ’n boom om en dit val op hom.”
Volgens die bron is Kakwata op die toneel dood verklaar. Die polisie in Wellington het met ’n geregtelike doodsondersoek begin.Katriena het vandeesweek aan Paarl Post gesê haar man is oorspronklik van Namibië en het in die vroeë 2000’s na Suid-Afrika verhuis.
Die meeste van sy familielede woon steeds in Namibië.
Katriena sê hy het vir veertien jaar by die betrokke veiligheidsmaatskappy gewerk.
“My man was baie lief vir sy werk. Hy was verlede jaar vir die eerste keer in ’n baie lang tyd af op Kersfees. Die vorige jare het hy altyd gewerk, wat wys dat hy ’n passie gehad het vir dit wat hy gedoen het.
“Maak nie saak hoe die weer buite sal wees nie – reën, wind of son – hy was op sy pos.
“Ons almal is stukkend en sukkel nog om die gebeure te verwerk. Dis asof dit nog nie regtig by ons ingesink het nie. Hy is die oggend oudergewoonte hier uit op pad werk toe.
“Ons het nie geweet dat hy nie sal terugkom nie,” sê sy.
Katriena beskryf hom as ’n “teruggetrokke mens, wat steeds vol liefde was”.
“My man was baie stil en privaat. Hy het nie sommer gepraat nie en het nie tyd gehad vir ligsinnigheid nie. Maar hy was liefdevol en as hy sou lag, het hy dit bedoel. Ek gaan sy lag altyd onthou; almal het altyd gepraat oor daai laggie.”
Reëlings word tans getref vir Kakwata se lyk om na Namibië vervoer te word.
Volgens sy vrou was dit sy wens om daar begrawe te word.
’n Vrou is ook die afgelope naweek weens die stormweer dood.
Die vrou het in die berge in die Wemmershoek-omgewing geloop toe sy blykbaar gegly en na haar dood geval het.
Sers. Muriel Sitzer, ’n woordvoerdervir die Franschhoek-polisie, het gesê die voorval het Sondagmiddag om 16:00 gebeur. Sy sê die oorledene, Sharon Mafele (24) van Philippi, was deel van ‘n span wat uitheemse plantegroei skoongemaak het en wat in die Wemmershoek-omgewing gewerk het.
Die groep skoonmakers was besig om uit hul afgeleë kamp in die berge rondom die Wemmershoekdam te beweeg toe Mafele geval het.
Haar lyk kon weens die stormweer eers Maandagaand (8 April) deur die Wes-Kaap se Wildernissoek-en-reddingspan (WSAR) verwyder word.