Die groot opgewondenheid van ’n skole-derby het verlede week in chaos geëindig toe ’n vermeende bendelid ’n sekuriteitswag doodgesteek het.

Weltevrede- en Bergrivier Sekondêr-skole in Wellington het verlede Woensdag reeds met hul verskeie rugbywedstryde in Boland-stadion begin, waarna hulle dit verlede Donderdag by Pelikaanpark voortgesit het.

Volgens Wellington-polisie se bevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, het ’n onderonsie tussen ’n groep jongmense en ’n sekuriteitsbeampte van CP Security plaasgevind, waartydens die sekuriteitsbeampte noodlottig met ’n mes gesteek is.

Beide Weltevrede Sekondêr en Bergrivier het Donderdag in ’n brief gesê dat hulle met jammerte hul skoolgemeenskappe in kennis stel dat die jaarlikse derbywedstryde van Vrydag en Saterdag (5 Augustus) tot Vrydag 11 Augustus uitgestel is.

“Weens omstandighede buite ons beheer het albei skole ooreengekom tot bogenoemde besluit.

“Alle rolspelers se aanbevelings t.o.v. ons leerders en gemeenskap se veiligheid is in ag geneem met die besluit.”

Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het volgehou dat geen leerder by die voorval betrokke was nie.

Sy het gesê dat hulle verslae ontvang het van die sekuriteitswag wat dood is ná ’n onderonsie met ’n lid van die publiek by Pelikaanpark in Wellington.

Die oorledene het gewerk vir ’n sekuriteitsmaatskappy wat gekontrakteer is om dienste te lewer by die derby-wedstryde tussen Weltevrede- en Bergrivier Sekondêr.

“Die tragedie het glo teen die einde van die geleentheid by die ingang van die stadion plaasgevind en daar was geen leerders of skoolpersoneel in die onmiddellike omgewing nie.”

Douglas Fivaz, eienaar van CP Security, het gesê ’n geliefde senior werknemer en sy “righthandman” is in die voorval oorlede.

Hy het gesê dat sy maatskappy aangestel is vir die beveiliging van die derby wat verlede week plaasgevind het. Die omgewing van veral Pelikaanpark is bekend vir bende-aktiwiteite.

Fivaz het gesê volgens sy personeel op die toneel het ’n groep jongmans die middag die stadion probeer betree, openlik in besit van ’n kis bier.

“Ons het die hekke toegemaak om hulle uit te hou. Maar die mans het klippe na die hek begin gooi en my bestuurder, Michael Corker, het die mans genader om vreedsaam te onderhandel en om vir hulle te vra om die terrein te verlaat.

“Maar toe hy nader aan hulle beweeg, is hy aangeval en in die hart met ’n mes doodgesteek.”

Fivaz het gesê dat Corker ’n staatmaker was wat 32 jaar vir die maatskappy gewerk het. Fivaz sou binnekort die leisels by hom oorgeneem het wanneer hy sou aftree.

Barkhuizen het gesê dat die polisie nog op soek is na die verdagte.

Albei skole, Bergrivier en Weltevrede, het vooraf duidelike riglyne bekend gemaak wat onder meer bepaal dat geen drank na die sportvelde geneem mag word nie en dat daar streng toegangsbeheer toegepas sal word.

In ’n openbare brief ná die voorval het Weltevrede se skoolhoof, Jerome Adonis, gesê verlede Donderdag was ’n tragiese dag in die geskiedenis van die jare lange tradisie van die derby tussen die Weltevrede- en Bergrivier-skole.

“Ons wil ons opregte simpatie uitspreek teenoor Corker se vrou, kinders en breë familie. God se krag kom in volle werking wanneer ons swak is – ons hoop dat hierdie Bybelvers vir julle tot bemoediging kan wees in hierdie hartseer tyd,” lui die brief van Adonis.

You need to be Logged In to leave a comment.