Die polisie en forensies Saterdagaand (9 Desember) op die toneel waar die 28-jarige Brandon Philander na bewering deur ’n polisiebeampte doodgeskiet is.

Credit: SYSTEM

– Volg van bladsy 1.

“Daar was niks wat die polisie genoem het dat hulle sy bloedalkoholvlakke gaan toets nie. Die gemeenskap voel toe die polisieman daar weggeneem is, kon hy sê dat hy agterna gaan drink het en dat hy nie dronk op die toneel was nie. Niemand op die toneel het die polisieman probeer seermaak nie, maar die polisie het probeer om hom so gou as moontlik weg te kry, asof mense hom sou wou aanrand,” sê Moses.

“Wat die gemeenskap eintlik ontstel het, is die feit dat toe die polisie die beskuldigde weggevat het, hy en sy vriend voor in die polisievoertuig geklim het en nie agterin nie. Die polisieman se vriend is net so skuldig aan Brandon se dood.

“Pops het skokgranate tussen die skare gegooi en dit was heeltemal onnodig. Hoewel mense gevloek het, het niemand baklei of die polisie daar probeer aanval nie.”

Bazil Jacobs, ’n raadslid en lid van die opposisieparty Concerned Drakenstein Residents (CDR), wat ook op die toneel was, het bevestig dat die polisieman die seun is van ’n voormalige CDR-lid wat reeds voor die 2021-verkiesing uit die party getree het.

Maandagaand het Jacobs saam met tientalle inwoners bymekaargekom op die plek waar Philander doodgeskiet is. Diegene wat die samekoms bygewoon het, is meegedeel oor die jongste inligting oor die voorval.

“Dit moet ’n beeld vir ons gemeenskap wees dat ons moet saamstaan en saam met mekaar werk. My pleidooi aan die gemeenskap is dat die polisie nie een van ons se enemy is nie, want die polisie pleeg nie sommer ’n misdaad nie.

“Die polisie is daar om ons te beskerm, maar wanneer die polisieman die wet oortree, dan kan die polisie hom nie ondersoek nie. Opod doen die ondersoek.”

Die voorval het ook verdere kommer gewek oor die veilige hantering, gebruik en bewaring van polisievuurwapens deur beamptes.

Tshepo Skhosana, die Popcru-vakbond se parlementêre skakelbeampte, het in Oktober in sy voorlegging van die polisie se 2022-’23-jaarverslag aan lede van die parlement se portefeuljekomitee oor polisie onthul dat 700 polisievuurwapens in die 2022-’23-boekjaar verlore geraak het.

Inwoners dui daarop dat dit ’n bewys is van onverantwoordelikheid aan die polisie se kant.

Die voorval waarin Philander gesterf het, is glo die derde polisieskietvoorval sedert September vanjaar toe twee mense in afsonderlike voorvalle in Paarl-Oos op 21 en 22 September deur polisiebeamptes doodgeskiet is.

Paarl Post het ook twee jaar gelede berig oor die negejarige Lithemba Maxhego van Mbekweni wat dood is nadat sy op 14 Mei 2021 met ’n polisievuurwapen in die gesig geskiet is.

Drie kinders, insluitend Lithemba, het by ’n polisiesersant se huis gespeel, op sy wapen afgekom en ’n onderonsie tussen die kinders en die polisieman het later tot die noodlottige voorval gelei.

Shuping het egter by navraag nie terugvoer verskaf oor die ondersoek van die twee voorvalle van September vanjaar, asook die voorval waarin Lithemba dood is, nie.

Ian Cameron, teenmisdaad-aktivis van die drukgroep Action Society, sê ’n deeglike ondersoek moet gedoen word sodat bepaal kan word wat werklik tydens die voorval gebeur het.

“Ek dink ons moet versigtig wees om iemand skuldig of onskuldig te verklaar sonder om al die nodige inligting tot ons beskikking te hê. Die polisie se weergawe en sekere lede van die publiek se weergawes van gebeure verskil en dus moet Opod ’n ordentlike ondersoek doen om die waarheid te bekom.

“Die polisie kan moontlik net ’n geregtelike doodsondersoek doen en die beampte sal nie aangekla word nie. Dit is mits daar genoeg bewys is dat hy om sy lewe gevrees het toe die man op hom afgestorm het.

“Dikwels word die fout gemaak waar gesê word iemand word vir moord aangekla as deel van die gewone prosedure, maar dit is onwaar. As daar duidelik in selfverdediging opgetree is, kan die polisie net ’n geregtelike doodsondersoek doen en afsluit.”

Moses het Philander beskryf as ’n vriendelike en respekvolle jongman. Ten tyde van sy dood het hy by Genuine Connection in die Paarl gewerk.

Paarl Post het besoek by Philander se pa, Morné Philander, afgelê, maar hy voel nog nie gereed om te praat oor wat gebeur het nie.

Die uitslag van die lykskouing, wat deur Opod beveel is, was teen druktyd nie beskikbaar nie.

Geen begrafnisreëlings kon met die familie bevestig word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article