Die rampbestuursentrum in die Wes-Kaap ’n vlak 9 waarskuwing uitgereik vir stormagtige reënval, sterk winde en onstuimige seetoestande wat tot Maandag kan duur te midde van die laagdrukstelsel wat tans oor die land beweeg.
’n Vlak 6 waarskuwing was aanvanklik Vrydag uitgereik maar is intussen aangepas. Dit is die eerste keer wat ’n vlak 9 waarskuwing in die Wes-Kaap uitgereik is,
Owerhede in onder meer die Drakenstein, Stellenbosch, Breederivier, Overstrand, Theewaterskloof, Swellendam en Kaap Agulhas is reeds op hoë gereedheidsgrondslag vir donderstorms wat hier voorspel word.
Reënval van tussen 100-120 mm kan tussen Sondag en Maandag in hierdie gebiede val, het die Suid-Afrikaanse weerdiens in ’n verklaring gesê.
Die weerdiens waarsku ook op gelokaliseerde vloede en het mense gemaan om nie laagwaterbrûe te probeer oorsteek nie.
Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het ’n beroep op die publiek gedoen om van veral laat Sondagmiddag op hul hoede te wees.
“Die weer gaan baie onaangenaam en selfs gevaarlik in seker gebiede wees. Besoeke aan kusdorpe veral in die Overberg en langs die Tuinroete moet versigtig oorweeg word. Geen ontspanningsaktiwiteite word by strande aanbeveel nie aangesien die branders hoër en sterker as gewoonlik sal wees.”
In die Drakenstein-munisipaliteit, waar reën en donderstorms reeds Sondagmiddag begin uitsak het, het owerhede ’n beroep op inwoners gedoen om die nodige voorsorg te tref.
“Maak seker dat alle geute vry is van blare en rommel sodat dit nie stormwaterstelsels verstop en die vloei van water verhoed nie. Vermy rivieroewers en wees ekstra versigtig veral as jy buite moet wees of die paaie moet aandurf,” lui ’n Facebook-inskrywing deur die munisipaliteit.
Noodgevalle weens die weer in die Drakenstein-munisipaliteit kan aangemeld word deur 080 131 3553 te skakel.