Oktober is Borskankermaand en prof. Carol-Ann Benn, ’n bekende borsspesialis en borssiektekenner, doen dus ’n dringende beroep op vroue om gereeld hul borsgesondheid te laat nagaan. Volgens statistieke sal een uit elke 27 Suid-Afrikaanse vroue in haar leeftyd deur borskanker geraak word.

“Vroeë opsporing beteken tydige ingryping. As borskanker vroeg opgespoor word, is dit hoogs behandelbaar, en hier is waar openbare bewustheid regtig nodig is. Mammogramme en selfondersoeke is so belangrik omdat ’n vroeë diagnose, tesame met die groot vordering wat in die behandeling van borskanker gemaak is, beteken dat borskanker oorwin kan word,” sê Benn.

“Ons moet baie meer oor borskanker praat as wat ons doen. Ma’s, praat met jul dogters – en jul seuns. Vriende en susters, praat met mekaar daaroor. Maak seker dat diegene naby aan jou op datum is met hul ondersoeke, en ondersteun mekaar deur betroubare bronne van kennis oor die onderwerp te deel,” dring sy aan.

Prof. Benn, wat die internasionaal erkende Netcare Milpark- borssorgsentrum van uitnemendheid (BCCE) in Johannesburg gestig het, sê vroue het nou baie beter gesondheidsuitkomste as dié in vorige geslagte by wie kanker gediagnoseer is. “Namate ons al hoe beter raak met die behandeling van borskanker, hoef ’n diagnose nie radikale chirurgie te beteken nie. Trouens, sewe uit tien vroue by wie borskanker gediagnoseer word, benodig nie ’n mastektomie nie.”

Sy moedig vroue aan om gereeld selfondersoeke te doen, benewens gereelde mammogram-ondersoeke. “Sewentig persent van alle borskankers word deur selfondersoek ontdek, maar baie vroue is onseker oor hoe om hul borste te ondersoek. Hulle kan maandelikse selfondersoeke as ’n onnodige ongerief beskou of selfs iets om te vermy omdat hulle bekommerd is dat hulle iets sal vind wat hulle ontstel. Niemand wil angstig voel nie, en die groot voordele van selfondersoek vir die opsporing van borskanker kan nie oorbeklemtoon word nie.”

Sy verduidelik hoewel baie mense dink hulle het ’n lae risiko omdat hulle geen geskiedenis van borskanker in hul familie het nie, het 60% van vroue wat gediagnoseer is, geen identifiseerbare risikofaktore nie. “Borskanker kan enigiemand raak – van jong meisies tot bejaarde vroue en mans ook,” sê sy.

Bewustheid en Ondersteuning

“As borskanker gediagnoseer word by iemand wat jy ken, praat met hulle oor hoop; moenie hulle oorweldig met somber stories van behandeling uit die verlede nie. Die vooruitsigte is vandag soveel beter. Sê vir hulle jy verstaan dat dit moeilik kan wees om dapper te wees, maar met die regte ondersteuning en mediese span agter hulle is dit makliker om hoopvol te voel. Leer jouself oor selfondersoek sodat jy kan help om diegene naby aan jou te leer. Dit sal ons help om die bewustheid te skep wat ons nodig het.”

Benn sê met groter bewustheid en die vooruitgang in borskankerbehan­deling, is daar meer ruimte vir hoop en minder rede vir vrees as ooit tevore.

“Moet asseblief nie bang wees as jy ’n knop voel nie. Moenie bang wees om vrae te vra of selfs ’n tweede opinie te vra nie. Dit is jou liggaam, nie die dokter s’n nie. Moenie wag om mediese hulp te kry nie. Daar is nou so baie goeie hulp beskikbaar. Raak betrokke by jou eie reis van hoop. Onthou dat nege uit tien vroue by wie borskanker gediagnoseer word, tien jaar later nog leef. Vandag is daar regtig soveel ruimte vir optimisme in ’n borskankerdiagnose.”

Selfsorg vir jou Borste

Hoe word borskanker gediagnoseer?

Prof. Benn beklemtoon dat die belangrikste metode van diagnose deurlopende selfondersoek is, wat vroeë opsporing kan ondersteun. “Dit moet opgevolg word met gereelde kliniese borsondersoeke deur jou dokter of borsspesialis en verwysing vir ’n mammogram, ultraklank (borssonar), magnetiese resonansiebeelding (MRI) of ’n kombinasie hiervan.”

Hoe om bors­selfonder­soek te doen

“Neem tyd om jou borste te onder­soek en gewoond te raak aan hoe hulle voel en lyk. Jy moet weet wat normaal is vir jou,” sê Benn. “Kyk vir enige verskille, soos veranderings in die grootte of vorm van die bors, enige onreëlmatig­hede in die vel, enige veranderings in die tepel en enige knoppe in die bors of onder die arm. Dit is ’n maklike manier vir vroue om gewoond te raak aan hul borste sodat hulle enige veranderings kan identifiseer.”

Dit word aanbeveel dat vroue ’n maandelikse borsselfondersoek doen op dieselfde tyd in hul menstruele siklus as hulle nog menstrueer, of op dieselfde dag elke maand.

“As jy ’n verandering in jou bors vind, moenie bang wees nie. Maak dadelik ’n afspraak met jou algemene praktisyn, wat jou sal lei oor die volgende stappe om uit te vind of dit regtig iets is wat aandag nodig het.”

Vir hulp oor hoe om doeltreffende borsselfondersoek te doen, besoek https://www.mybreast.org.za/breast-health/breast-cancer/how-can-i-check-for-breast-cancer/.

You need to be Logged In to leave a comment.