Na aanleiding van ’n hofsaak wat Drakenstein-munisipaliteit onlangs verloor het oor plaaswerkersbehuising het Paarl Post op 4 Augustus navrae aan die munisipaliteit gerig om vas te stel hoeveel geld hy jaarliks aan hofsake bestee.

Paarl Post het ook verlede week berig die munisipaliteit is in ’n hofgeding gewikkel om die stadsbestuurder, Johan Leibbrandt, vir nog ’n termyn in sy pos aan te stel. Dan is daar jaarliks ander hofgedinge waarby die munisipaliteit betrokke is in verband met uitstaande skuld aan diensverskaffers asook tender-ongerymdhede. Dit is net ’n paar voorbeelde van die tyd en geld wat die munisipaliteit jaarliks aan hofgedinge bestee.

Die vrae wat gestel is aan die munisipaliteit sluit in:

Hoeveel geld het die munisipaliteit in die vorige boekjaar aan hofsake bestee en altesaam hoeveel hofsake het plaasgevind?

Hoeveel het die munisipaliteit tot dusver in die huidige boekjaar aan hofsake bestee en hoeveel hofsake was daar?

Word begroot vir hofsake en hoeveel is in die vorige boekjaar begroot en hoeveel vir die 2022-’23 boekjaar?

Paarl Post wou ook meer duidelikheid kry of die regskostes – indien die munisipaliteit ’n hofsaak wen – wel aan hulle terugbetaal word of nie.

Tot op datum het die Drakenstein-munisipaliteit geweier om dié vrae te beantwoord. Dit laat ’n mens wonder waarom. Dis tog belastingbetalersgeld waarmee hulle speel.

You need to be Logged In to leave a comment.