Onderwysers is die ingenieurs wat vir baie kinders die toekoms help inlei. Tog is dit nie elke dag dat waardering aan hulle betoon word nie.
In Oktober word Wêreld Onderwysersdag gevier en dit is ook Onderwyserwaarde-ringsmaand. Paarl Post het gesels met Andriette Smit van die Hoërskool Gimnasium Paarl oor die rol wat sy by haar skool speel.
Smit is in Klerksdorp gebore en het in Evander, Mpumalanga, grootgeword. Sy vertel sy is die jongste van drie susters. Smit sê sy was ’n leerder aan die Hoërskool Evander waar sy uitgestaan het as ’n atleet in gewigstoot en diskusgooi sowel as netbal. Sy het by dieselfde skool haar skoolloopbaan voltooi. Wanneer Smit terugdink aan haar skooljare is daar geen twyfel dat sy nog altyd ’n onderwyser wou word nie.
“Vanaf hoërskooldae het ek ekstra wiskundeklasse vir my vriendinne gegee, en dis waar ek die besluit geneem het om ’n onderwyseres te word, omdat ek kinders wil help om die beste te wees wat hulle kan wees. Ek is reeds 17 jaar in die onderwys. Ek het ’n groot liefde vir syfers en dit is waarom ek besluit het om ’n rekeningkunde-onderwyseres te word. Beste besluit ooit!”
Ná skool het Smit ’n jaar in Londen deurgebring. Met haar terugkeer het sy ’n onderwysgraad (B Ed senior fase en VOO) aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) verwerf. As onderwyser is Smit baie doelgerig en het sy vir haar die doelwit gestel om ’n 100%-slaagsyfer te kry in die vak wat sy onderrig, maar om ook altyd daar te wees vir haar leerders deur hulle te ondersteun.
“Ek wil kinders ontwikkel tot die beste van hul vermoë. Om hulle te leer jou beste is goed genoeg. Ek wil daar wees as hulle my nodig het, ’n steunpilaar vir die gemeenskap. Ek wil help bou aan die toekoms van die land. No one will be left behind.”
Behalwe dat sy onderrig, is Smit (37) ook adjunkhoof by Gimnasium. Sy is een van drie adjunkhoofde by dié skool en hanteer alle personeelsake, asook die gr.12-eksamens. Goeie uitslae en wanneer leerders die werk verstaan wat sy verduidelik maak Smit se beroep as onderwyser vir haar die moeite werd. Dis ook vir haar baie bevredigend om te sien dat haar leerders net soveel liefde het vir rekeningkunde soos sy. ’n Bewys hiervan is die 100%-slaagsyfer in rekeningkunde vir gr. 12-leerders die afgelope sewe jaar. Dis iets waaroor Smit baie trots is.
“Onderwysers vorm die hoeksteen van die toekoms. Sonder onderwysers is daar geen manier dat ons ooit vorentoe sal kan beweeg nie. Ons onderrig nie net kinders nie, ons leer hulle ook van die wêreld daar buite. Ons dra by tot die waardes wat hulle benodig vir die grootmenswêreld. Ons maak van hulle respekvolle landsburgers. Toekomstige leiers. Onderwysers doen baie meer as net onderrig. Ons verdien elke dag waardering vir als wat ons insit om ander se kinders te help groei.”
Smit is self ook ’n ma. Sy het ’n 13-jarige dogter, Leandrè. Met baie jare agter die rug in die onderwys erken Smit dat om ’n onderwyser te wees nie die maklikste beroep is nie.
Sy wil ander onderwysers ook bemoedig om aan te hou met die goeie werk wat hulle doen al raak dinge soms moeilik.
“Weet jy maak ’n groot verskil aan die toekoms. Kinders kyk op na jou. Onderwysers is baie kinders se rolmodelle, hul veilige hawe. Hou aan inspireer en motiveer.
“Gee leiding. Laat elke kind in jou klas altyd voel hy/sy is die belangrikste. Jou glimlag is dalk die enigste glimlag wat ’n kind op ’n dag kry.
“Ondersteun elke kind wat jou pad kruis. Liewe onderwyser, onthou jy maak saak! Jy is ’n superster!” .Teachers are the engineers who help pave the way for the future for many children. Yet, it is not every day that appreciation is shown to them.


