Die brandseisoen is nou amptelik hier en reeds trek die rook deur die vallei.

Die somermaande is die afgelope jare erg bederf deur brande wat ’n pad van verwoesting deur ons berge en veld laat – asook jaarliks miljoen rand vir die bestryding hiervan kos.

Die Drakenstein-vallei het deur die jare reuse-landbouskade weens hierdie brande opgedoen en talle historiese geboue is in puin gelê.

Om ’n brandbestrydingshelikopter vir ’n uur in die lug te hou, kos bykans R50 000.

Dit sluit nie die koste van grondbemanning en -voertuie en dies meer in nie – ’n uitgawe wat plaaslike, provinsiale en distriksmunisipaliteite die minste kan bekostig, maar tog daarvoor moet opdok.

Kortliks – een enkele brand kos etlike miljoene rand om te bestry.

En die hartseer van als is dat hierdie brande dikwels deur menslike nalatigheid of opsetlike brandstigters veroorsaak word.

Die miljoene wat jaarliks op die blus van sulke brande vermors moet word, kon gebruik word vir broodnodige behuising, infrastruktuur, gemeenskapsdienste en dies meer.

Die breë publiek moet hiervan bewus wees en besef dat sulke brande – wat voorkom kan word – nie net geweldige skade veroorsaak nie, maar die finansiële skade daarvan is eintlik reusagtig vir ons gemeenskappe.

You need to be Logged In to leave a comment.