Hoewel die hele vallei die afgelope drie en ‘n half maande onder streng inperking gedwing is, het plaaslike renduiwels onstuitbaar met hul middernagtelike roekelose tydverdryf voortgegaan.
Onwettige motorsport is geen nuwe sportsoort in die Paarl nie. Klein Drakensteinweg, Distillerystraat, Jan van Riebeecklaan en die Paryspad asook die N1 is al jare lank gewild onder spoedvrate, wat van so ver as Kaapstad hierheen hiervoor snel.
Hierdie onwettige sport het nie net ’n nagmerrie plaaslike wetstoepassers geword nie, maar het al die lewe van renjaers sowel as toeskouers geëis.
Die onwettige bedrywighede op plaaslike paaie veroorsaak slapelose nagte vir baie inwoners in die omgewing van die Paryspad, waar talle woonontwikkelings nou verrys.
Maar selfs inwoners oorkant die Bergrivier asook diegene wat in die gebied naby Klein Drakensteinsweg woon, word snags deur die geraas van brullende enjins en skreeuende motorbande wakker gehou.
‘n Inwoner naby Parysweg het onlangs aan Paarl Post gesê dit is skokkend dat hierdie onwettige renne elke naweek, en selfs toe ’n aandklok in die grendeltyd gegeld het, dwarsdeur die week ook gereeld plaasgevind het.
“Dis soos ‘n volskaalse renbaan met toeskouers, maar ons sien nooit die polisie of verkeerspolisie hier patrolleer nie.”
“Toeskouers maak hulle heel gemaklik langs die pad – van die N1-brug af tot by die sirkel van Jan van Riebeeckrylaan.”
“Versnelrenne vind op die Paryspad tussen twee voertuie van die N1-brug af, om die Marksstraatsirkel en weer terug, plaas.
“Dit is ’n kakofonie van geraas deur al die voertuie en ’n gewedywer oor wie se kar se enjin die hardste kan laat brul.”
Ander inwoners sê afgesien van die ergernis en slapelose nagte is die aktiwiteit op dié pad, wat nou die hoofingang na die Paarl is, ’n tydbom wat wag.
“Hierdie onverskillige renjaers is nie net ’n gevaar vir hulself en die toeskouers rondom hulle nie, maar ook vir niksvermoedende padgebruikers.”
Intussen, sê inwoners, is dit “net ’n kwessie van tyd” voordat ’n noodlottige botsing op die Paryswegpad weens die nagwedrenne gebeur.
Kapt. Louise du Plessis, die Paarl-polisiewoordvoerder, het op haar beurt gesê die polisie probeer gedurig op die publiek se klagtes oor hierdie onwettigge renne reageer en werk ook saam met die plaaslike en provinsiale verkeersowerhede om dit hok te slaan.