’n Hawelose met haar besittings in die Paarlse middedorp. Foto: Rasaad Adams


Die Drakenstein-munisipaliteit, in samewerking met sy maatskaplike- ontwikkelingsafdeling, het onlangs aangekondig dat hy suksesvol vyf haweloses met hul familie herenig het, nadat die munisipaliteit die “afgelope paar maande” hiermee besig was.

Volgens Eda Barnard, die munisipaliteit se waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste, was die vyf haweloses afkomstig van onderskeidelik Seepunt, Kraaifontein, Oos-Londen, Queenstown en Aliwal-Noord.

“Die munisipaliteit volg ’n omvattende benadering om haweloosheid in [die Drakenstein-] gemeenskap aan te pak. Daagliks beweeg [die munisipaliteit] deur die strate waar hulle mense wat in nood verkeer, teëkom. [Die munisipaliteit] monitor en dokumenteer mense wat haweloos is om te verseker dat hy akkurate inligting het,” sê Barnard.

“Hierdie deurlopende insameling van data is van kritiese belang om [die munisipaliteit se] ondersteuningsdienste en intervensies aan te pas om doeltreffend in die behoeftes van mense wat haweloos is, te voorsien. Só kan ons ook vasstel wie nuut ‘op straat’ is en van waar hulle afkomstig is.”

Volgens Barnard het hierdie uitreikings uiteindelik gelei tot die vyf haweloses wat met hul familie herenig is.

“Die individue wat terugkeer na hul familie is dikwels die mense wat self na die munisipaliteit uitreik met die wens om terug te keer na hul tuistes.

“ ’n Voorbeeld hiervan is iemand wat na Drakenstein gekom het met die hoop om werk te vind, maar ongelukkig nie daarin geslaag het nie. Hy het besluit om hulp te vra om weer by sy familie aan te sluit.

“So ’n proses begin gewoonlik met die persoon wat haweloos is wat die munisipaliteit van ’n kontaknommer of familielid se naam voorsien. In baie gevalle het [die hawelose] self ’n selfoon of ’n kontaknommer van ’n familielid wat via kanale soos Facebook of WhatsApp bereik kan word.

“Sodra die nodige kontak gemaak is, bevestig die munisipaliteit dat die inligting wat die hawelose gee akkuraat is en dat die familie bereid is om hom of haar terug te verwelkom.”

Barnard verduidelik dat met elke hereniging die munisipaliteit “verseker” dat die huislike omstandighede van die haweloses ondersoek word om te verseker dat die hawelose terugkeer na ’n veilige omgewing.

“Die persoon [moet ook] opreg wees oor die begeerte om met sy familie herenig te word,” sê Barnard.

You need to be Logged In to leave a comment.