Paarl-polisiestasie sal weer vanaf Vrydag 15 Mei lede van die publiek help met vuurwapenlisensie hernuwings asook amnestie aansoeke.

Dit kom nadat die stasie onlangs ’n paar dae moes sluit, omdat ’n polisielid gestasioneer in die gebou positief getoets het vir Covid-19.

Die stasie is op 6 Mei heropen nadat die hele stasie voldoende gereinig is en alle voorsorgmaatreëls is getref om polisielede en die publiek teen die koronavirus te beskerm.

Die publiek moet egter tydens die huidige Covid-19 pandemie ’n afspraak met die vuurwapenkantoor maak vir enige besoek daarheen. Hierdie afsprake sal streng op weeksdae vanaf 8:00 tot 15:30 plaasvind. Aansoeke om nuwe vuurwapens sal egter nie gedurende die grendelperiode ingedien kan word nie.

“Die Paarl SAPD sal poog om die publiek so vinnig as moontlik gedurende hierdie periode by te staan en versoek dat alle gemeenskapslede wat besoek aflê by die polisiestasie, gesigmaskers dra,” sê Paarl Polisie woordvoerder Kapt. Louise Du Plessis.

Aangewese vuurwapenbeamptes sal slegs tydens hierdie aanstellings die volgende hanteer:

• Vuurwapen amnestie

• Vuurwapenlisensie hernuwing, wat voor die periode van 90 dae verleng moet word

• Vuurwapenlisensies wat verval het gedurende die grendelperiode verval het

Volgens luitenant-generaal Moeketsi Sempe, afdelings-kommissaris vir sigbare polisiëring, bepaal artikel 24 van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, 2000 dat ’n lisensiehouer wat hul lisensie wil hernu, dit minstens 90 dae voor die vervaldatum van die lisensie moet doen.

“Met die oog hierop het die nasionale kommissaris [luitenant-generaal Khehla Sithole] die versekering gegee dat aansoeke om hernuwing van vuurwapenlisensies en / of bevoegdheidsertifikate wat tydens die sluiting beïnvloed is, steeds aanvaar sal word mits die lisensie / bevoegdheid nie verval het nie.”

Sempe het ook benadruk dat geen lid van die gemeenskap by enige polisiekantoor weggewys moet word in die proses om vuurwapenaansoeke in te dien nie.

Fred Camphor, woordvoerder van SA Jagters, het ’n beroep op lede van die vereniging gedoen om hul aansoeke om hernuwing van lisensies sowel as bevoegdheid in te dien as hul lisensie binnekort verval vir hul jagwapens. Verder het hy jagters gewaarsku om nie mislei te word deur valse nuus wat die rondte doen nie.

“Daar is ’n gerug dat ons toegelaat sal word om te jag volgens die vlak 4-toesluitregulasies. Ons wil lede uitdruklik waarsku om buitengewoon versigtig te wees en nie beïnvloed te word deur gerugte en / of sprokies nie. Die finale protokolle is nog nie gepubliseer nie, en die verwagting is dat ons nog nie toegelaat sal word om te jag nie. Moet asseblief nie onverantwoordelik optree nie.”

Enige navrae en afsprake by Paarl-polisiestasie rakende amnestie en vuurwapenlisensies wat verval het, bel Kapt. Lubbe by 021 807 4047 of 083 237 4935 verwys word. Kontak Kapt. Harris by 021 807 4115 of 079 894 0109 vir ander lisensie-navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.