Is jy lus vir ’n regte egte skaapsosatie uit die hartjie van die Karoo? Dan is die Strooidak-Willistonfees net die plek waar jy Vrydag en Saterdag (27 en 28 Oktober) moet wees.
Vanjaar se fees sal groot wees, aangesien dit die 20ste vleisfees is wat die Strooidakkerk in die Paarl aanbied. zDie fees het diep gemeenskapwortels wat ook ’n toonbeeld is van hoe gemeenskappe mekaar bystaan.
Die fees het ’n nederige ontstaan gehad toe die Williston-gemeente die Strooidak-gemeente genader het om ’n vleistafel by hul basaar in die Paarl aan te bied.
Die gemeenskap van Williston het destyds onder die wurggreep van ’n erge droogte gebuk gegaan. Die idee van ’n gesamentlike basaar is gebore, met die groot aantrekkingskrag die lamsvleis. Maar nooit het hulle gedink die fees sou só van krag tot krag gaan nie.
Die hele gemeenskap van Williston span nou weke voor die fees saam om vleis te bewerk – van sosaties ryg en wors maak, tot vleis verpak en skaapkoppe skrop. En vanjaar vergesel 100 Willistonners die vleistrokke na die Paarl, waar hulle ook gaan help braai en stalletjies by die fees beman.
Oudergewoonte word beplan om meer as twee ton Karoo-tjops te braai, een ton boerewors, nagenoeg 15 000 sosaties asook honderde “skilpadjies”.
Twee ton lamskarkasse is reeds bestel en 200 skaapkoppe en afvalle is skoongemaak vir verkoop by die fees. Lamskenkel-afval- en hoederpotte word ook voorberei as alternatiewe maaltye, soos wraps.
Die tafels gaan ook weer kreun met alle tradisionele basaargoed. En vir diegene wat nie te lief is vir hul vleis nie, sal vars groente en gebak beskikbaar wees, asook ’n verskeidenheid ingelegde produkte, geskenke en boeke.
Nuut vanjaar is die veilige speelpark vir kinders langs die kerk. Vrydagaand is daar ’n Ray Dylan-konsert; nog ’n paar kaartjies is by die kerkkantoor beskikbaar.
’n Kontantkroeg is beskikbaar vir die duur van die fees. Ds. Fanie Kriel se potte is weer daar – kerrieafval, skenkel- en seekospotte.
Wat vanjaar ook anders is, is afslagpryse om almal se sakke te pas.
“Dit is ons wens dat almal in dié strawwe tye iets moet kan koop.”
Die fees begin Vrydagoggend en die publiek word aangeraai om vir Sater-dagoggend se plaasontbyt vooraf kaartjies by die kerkkantoor by 021 872 4396 te koop. Die fees eindig Saterdag 14:00.