Uit die 189 vullisterreine wat AfriForum reg oor die land geoudit het, is die grootste getal vullisterreine wat geslaag het in die Wes-Kaap geleë, onder andere Drakenstein.Foto: Ter illustrasie


Uit die 189 vullisterreine wat AfriForum reg oor die land geoudit het, is die grootste getal vullisterreine wat geslaag het, in die Wes-Kaap geleë. Altesaam 12 vullisterreine het ten minste 80% van die ouditvereistes nagekom.

Die vullisterreine in Gansbaai, Malmesbury, Vredenburg en Wellington, sowel as die oordragstasie in Langebaan, het selfs 100% van die minimum wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur nagekom.

Altesaam 38 vullisterreine in hierdie provinsie is besoek, waarvan 34 formeel geoudit is, terwyl vier terreine gesluit is.

Nietemin het nie al die vullisterreine in die Wes-Kaap goed gevaar nie. Die vullisterrein in Lutzville het aan geen van die ouditvereistes voldoen nie, terwyl Bitterfontein, Nuwerus en Klawer slegs 6% van die vereistes nagekom het.

Die oordragstasies in Knysna het net so swak gevaar. Die Knysna Old Place-oordragstasie, wat vir tuinafval gebruik word, het 12% van die vereistes nagekom, terwyl die Knysna- Sedgefield-oordragstasie, waar onder andere bourommel gestort word, 22% van die ouditvereistes nagekom het.

Volgens Jacques Benade, AfriForum se distriks­koördineerder vir die Bolandstreek, is die meeste vullisterreine in die Wes-Kaap in ’n slegter toestand as verwag. “Vullis uit enige stedelike gebied skep nie net ’n estetiese probleem nie, maar hou ook ernstige gesondheidsrisiko’s in as dit nie doeltreffend bestuur word nie. Dit sal betreurenswaardig wees as die standaarde van vullisterreine in die Wes-Kaap, soos dié van ander provinsies, voortgaan om agteruit te gaan.”

AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, die nasionale minister van bosbou, visserye en die omgewing, om die bevindings van die verslag met hom te deel en ’n formele ondersoek teen die Wes-Kaap se nie-nakomende munisipaliteite aan te vra. AfriForum sê Suid-Afrikaners se grondwetlike regte, soos die reg op ’n skoon en gesonde omgewing, word deur die swak bestuur van vullisterreine ontken. Daarom moet die minister dringend munisipaliteite tot verantwoording roep.

You need to be Logged In to leave a comment.