Die onlangse brand op Paarlberg. Foto: Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit


Die onlangse brand op Paarlberg, wat op 30 November begin en minstens 123 ha se plantegroei verwoes en twee huise se dakke beskadig het, is suksesvol geblus – nie net deur die amptelike brandbestryders nie, maar ook danksy talle vrywilligers wat hand bygesit het.

AfriForum se Groot Drakenstein-plaaswag en die Drakenstein-plaaswag (DFW) was twee van die vrywilliger-organisasies wat brandbestryders bygestaan het.

Volgens Theunis Fick, ’n lid van AfriForum se Groot Drakenstein-plaaswag asook die eienaar van Cyclops Security Solutions, wou die plaaswag proaktief optree. Hulle het gedurende die loop van die naweek verskeie patrollies ten doel van misdaadbekamping gedoen, veral teen die hange van Paarlberg waar die brand verskeie huise in gevaar gestel het.

Fick verduidelik dat die plaaswag ook verskeie kospakkies aan die brandbestryders op Paarlberg oorhandig het.

Dit het burgers die Saterdagaand (30 November), drie maaltye die Sondag (1 Desember) en ontbyt vir Maandag (2 Desember) ingesluit.

Verskeie individue en plaaslike ondernemings het met skenkings gehelp, lui ’n persverklaring deur AfriForum Paarl.

“AfriForum-patrolleerders het die gebiede wat [weens die brand] ontruim is, tot Sondagoggend 04:00 gepatrolleer om moontlike kwaaddoeners en misdadigers uit te hou.”

Die DFW het huise in die Le Joubert-landgoed teen die vlamme beskerm.

Volgens Daan van Leeuwen Boomkamp, die bevelvoerder van die DFW, het die organisasie twee brandweerwaens tydens die naweek se brand ontplooi nadat huiseienaars van Le Joubert hulle gekontak het vir hulp waar twee huise baie naby aan die vuurlyn was.

Volgens hom was die vlamme slegs 20 m van die twee huise af, maar die brand is geblus sonder enige skade wat aangemeld is.

Hulle moes ook die landgoed se grensmuur deurgaans patrolleer om te keer dat die vlamme moontlik nader aan die huise kruip.

Van Leeuwen Boomkamp het sy ontevredenheid uitgespreek dat die DFW nie deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) of die Drakenstein-munisipaliteit (DM) ontplooi is nie, maar op private noodoproepe reageer het – veral omdat twee huise in Groenvlei se dakke en waterpype brandskade opgedoen het; skade wat moontlik voorkom kon word indien die vrywillige brandbestryders [vroeër] kon gaan help.

Die munisipaliteit het nie ’n rede gegee hoekom sy branddienste nie ook van die DFW gebruik gemaak het nie.

Volgens Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder vir die KWDM, het die munisipaliteit amptelike ooreenkomste met verskeie rolspelers soos “CapeNature en Winelands Fire Protection Association (FPA), provinsiale rampbestuur asook die plaaslike en naburige munisipaliteite, wat almal brandbestrydingsdienste lewer”.

Volgens Otto bestaan geen ooreenkoms tussen die KWDM en die DFW nie en is die DFW gevolglik nie uitgeroep nie.

You need to be Logged In to leave a comment.