Vrouemaand lê op sy rug en die einde van die jaar kruip stadig nader.
Dit was ’n groot eer om vroue te kon vier en te eer vir dít wat hulle vir die gemeenskap doen en beteken.
Elke vrou wie se storie gedeel is, dra by tot die voortbou van ’n samelewing met baie potensiaal. Dit bring krag, hoop en liefde. Dit is ’n antwoord op die geloof dat daar nog baie goeie goed in die samelewing is.
Die afgelope maand kon ons kyk na die liefdeswerk wat versorgers soos Roseline Simons elke dag verleen aan siekes wat hulself nie kan help nie. Die orgaanskenkingsverhaal van hoe Madeleine Louw haar dogter Chinille Willemse se lewe gered het deur ’n nier te skenk, is bewys van ’n ma se liefde.
Merlyn van Rheede het ons herinner aan vroueregte en die mag wat vroue in die samelewing het. Desiree Versnel se storie as boer bewys dat vroue se hande vir niks stil staan nie, en die vroue van Buzy Bees wat ander bemagtig deur nuwe vaardighede aan te leer.
Dit is ook belangrik om vroue soos Siphokazi Booi van Mbekweni te onthou, wie se kêrel vandeesmaand uiteindelik vir jare weggestuur is vir haar moord – bittersoet, hoewel dit haar nie terugbring nie.
Mag ons onthou dat elke vrou se storie waarde dra en vertel moet word.