Van Adama Wines se werknemers sluit in (van links) Carmen Mac Curry (menslikehulpbronbestuurder), Ruth Faro (wingerdbestuurder), Praisy Dlamini (bestuurder en wynmaker), Janine Goosen (rekeningbestuurder), Allison Leukes (finansiële bestuurder) en Natasha Williams (konsultantwynmaker).Foto: Johané Scott


Vrouebemagtiging word nie net vir Augustusmaande uitgehou nie, maar gebeur elke dag by die werk.

Vir ’n groep inspirerende vroue van Adama Wines is dit tot so ’n mate waar dat dié Wellingtonse onderneming Woensdag 14 Augustus ’n spesiale geleentheid by Tabakhuis in Suider-Paarl gehou het om hul vroue te vereer en aan gaste van die maatskappy bekend te stel. Die maatskappy word beskou as onkonvensioneel en ’n toonbeeld van vroue- en swartbemagtiging in Suid-Afrika.

Adama Wines, ’n bemagtigingsmaatskappy wat uit Bosman Adama ontstaan het, is nou 18 maande oud. Dié wynmakery word deur 30% swart vroue besit en het 55% swart eienaarskap saam met die Adama-werknemerstrust.

Die Bosman Adama-verhaal speel hom al tien jaar af met werknemers op die plaas wat ’n 26%-aandeel in die kelder besit. Die Bosman-wynplaas het verder menige gerief wat daarop gemik is om werknemers se lewe te verbeter, onder meer kindersorg, huise en ’n kliniek. Daar is ook geleenthede vir individue om te ontwikkel en verskeie werknemers het Bosman se aanbod vir beurse en studiehulp aanvaar en onder meer besigheidsbestuur, rekeningkunde, vervoer en landbou studeer.

Dit het mettertyd duidelik geword dat ’n groep werknemers, almal vroue, die vaardighede aangeleer het om self ’n maatskappy te bestuur. Adama Wines het tot stand gekom en vandag bestuur die groep vroue die onderneming volgens ’n onkonvensionele sakemodel.

In plaas daarvan dat hulle wyn maak en dit dan probeer verkoop, bepaal hulle eers kliënte se behoeftes, waarna hulle druiwe inkoop om wyn volgens dié voorskrifte te produseer. Adama Wines het vanjaar 4,5 miljoen liter wyn gemaak.

Die onderneming het ’n bestaande klantebasis en bou elke dag aan sy reeds sterk reputasie. Die maatskappy het ook onlangs ’n wynmaker en bestuurder aangestel.

Hul wynmaker, Praisy Dlamini, ’n gegradueerde wynmaker van die Elsenburg-landboukollege, het 16 jaar ondervinding van wynmaak. “Ek is verlief op die Adama Wines-beginsel,” sê sy en voeg by dat sy die span vroue se sin vir gemeenskap waardeer.

Sy is oortuig dat hulle saam ’n droom kan bou.

You need to be Logged In to leave a comment.