Dit word dikwels verkeerdelik opgeneem dat gholf ’n sport net vir mans is. Dit is egter geensins waar nie – vroue blink uit in hierdie sport.
Twee lede van die Wellington-gholfklub, Bev Pienaar en Hanlie van Zyl, is bewys hiervan nadat hul name in die geskiedenisboeke gegraveer is toe albei binne ’n jaar ’n hole-in-one slaan.
Elke gholfspeler droom van ’n kolhou, maar min slaag daarin.
Hanlie, wat met ’n voorgee van 18 speel, het verlede jaar op die 17de putjie (syfer 3) van die Wellington-gholfbaan haar kolhou in die Winter-uitspeelronde aangeteken.
“Die wind het effens gewaai en dit was ’n bietjie reënerig. Die bal het reguit gerol, ge-hop en ge-hop en in die gaatjie beland!
“Wanneer dít gebeur, glo jy dit amper nie. Dit was baie opwindend!” het sy gesê.
Bev, wat met ’n voorgee van 26 speel, het gesê haar kolhou was op die 15de putjie (syfer 3) by die Stellenbosch-gholfklub toe sy aan die Boland-midamateur- en senior toernooi deelgeneem het.
Vir haar is dit ’n herinnering wat sy altyd sal koester. “Dit is ’n voorreg om gholf te kan speel. Wat die kolhou betref, was dit gewis nie iets wat ek ooit gedink het met my sal gebeur nie”.
Die twee neem al amper tien jaar aan dié uitdagende sport deel wat hulle in staat stel om die buitelug en pragtige natuurskoon te geniet terwyl hulle op verskillende bane speel.
Dan is daar natuurlik al die vriende wat hulle maak – nie net in hul eie klub nie, maar reg oor die land wanneer hulle in ligawedstryde speel en aan vrouedae en toernooie deelneem.
Vir hulle is gholf ’n sportsoort met baie aan- en nog meer afdae, maar elke keer kom hulle terug en speel weer.
Dié twee stylvolle gholfspelers neem gereeld aan ladies days, soos hulle dit noem, by verskillende klubs deel waar hulle ander bane leer ken en mense ontmoet. “En solank ons gesondheid hou, sal ons aanhou gholf speel.”