“Derduisende rande” het uit die Drakenstein-munisipaliteit se hoofkantore in die Paarl verdwyn.


’n Voormalige werknemer van die Drakenstein-munisipaliteit word ondersoek vir die verduistering van derduisende rande by dié munisipaliteit.

Die vrou, wat reeds afgetree het, het in die uitgawe-afdeling van die munisi­paliteit gewerk. Hier het sy na bewering oor ’n geruime tyd betalings wat aan die munisipaliteit gemaak is in haar persoonlike bankrekening oorbetaal.

Die munisipaliteit wou nie bekend maak hoeveel geld hierby betrokke is nie, maar sy het glo bedrae van meer as R100 000 op ’n slag na haar rekening(e) oorgedra.

Die hoof finansiële beampte van die Drakenstein-munisipaliteit, Bradley Brown, het bevestig dat ’n voormalige werknemer van die munisipaliteit tans vir beweerde bedrog en geldverduistering ondersoek word. Hy het gerugte ontken dat die munisipaliteit sloer met die ondersoek, soos verskeie betrokkenes by die munisipaliteit beweer.

“Die munisipaliteit het die saak onmiddellik begin ondersoek toe dit onder die bestuur se aandag gebring is.

“Ons het dit ook reeds by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld en ’n onafhanklike forensiese ondersoek van stapel gestuur,” sê Brown.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article