Twee Wellingtonners is in Vrouemaand met die gesogte Winnie Rust-prys as Vrou van die Jaar bekroon.
Hierdie viering is ’n huldeblyk aan die geliefde Wellingtonner en bekroonde skrywer, wyle Winnie Rust.
Connie Abrahams en Danalene Ruiters was oorstelp van vreugde toe hulle uit die vier finaliste as die wenners aangewys is. Hulle vier Winnie se nalatenskap die beste.
Connie en Danalene het bo hul omstandighede uitgestyg en tree daagliks as heldinne in hul gemeenskappe op om voortdurend ’n verskil te maak.
Volgens Christine Siebrits, lid van die Winnie Rust-komitee, het Connie en Danalene uitgestaan – elkeen in die sfeer waarin sy beweeg.
“Daarom het ons besluit om die Winnie Rust-prys te deel tussen Connie en Danalene. Die naaswenners, Gaynore Pietersen en Claudia Makwena, verrig ook ’n besonderse werk,” vertel Christine.
Connie het drie benoemings van Wamakers-opleidingsentrum ontvang asook van verskeie vriende. Sy het ook briewe van haar studente gekry wat haar laat kwalifiseer het vir die prys.
Ten spyte van ontberings as enkelma en die stigma van ’n geskeide vrou, het sy besluit om ander vroue soos sy te bemagtig. Sy het 30 jaar by Bergrivier Textiles gewerk.
As enkelma moes sy weer van voor af begin geld verdien om kos op die tafel vir haar en haar kinders te sit.
Sy het die besluit geneem om vir haar en haar dogters grond in Vanwyksvlei te koop en ’n tweeslaapkamerhuis te bou. Sommer gou het sy die gemeenskap leer ken en begin om los werk te doen sodat sy ’n ekstra inkomste kan verdien.
Later het sy stelselmatig ekstra kamers aan haar huis aangebou en dit gebruik om huisvesting aan studente te verskaf. Vandag staan haar losieshuis bekend as die Studentenessie. Buiten dat sy haar oor hulle ontferm, is sy die moederfiguur vir die studente.
In 2010 begin sy werk as ’n ontvangsdame en nutsman by Wamakers-opleidingsentrum. Ná nege jaar in diens by dié instansie tree sy af.
Connie kon nie stilsit nie en haar droom om ’n ondersteuningsgroep vir enkelvroue te stig, het waar geword. Connie vertel dat die geheim tot sukses in haar geloof lê.
“Ek is ’n diep gelowige mens en stap die ekstra myl om ander te help. Ek hou ook daarvan om betrokke te wees by die kerk,” sê Connie. Buiten Connie het Danalene ook as ’n wenner uitgestaan.
“Danalene is deur die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit benoem omdat sy van ’n minderbevoorregte plaasmeisie uit ’n omgewing waar drankmisbruik aan die orde van die dag was, gekom het,” het Christine voorgelees.
Omstandighede het Danalene nie afgeskrik nie, maar haar eerder gemotiveer om harder te werk.
Vandag is Danalene trots as sy terugdink aan haar skooldae wat sy aan Pauw Gedenk Primêr, Wellington Primêr en Bergrivier Sekondêr voltooi het.
Ná skool het sy haar loopbaan aan die Universiteit Stellenbosch voortgesit waar sy die graad BAgric (Pomologie) en wingerdboukunde verwerf het.
Danalene het ook haar eie niewinsgewende organisasie, Rural and Proud, gestig om veral die jongmense en plaaswerkers te bemoedig.
“Ek wou altyd ’n verskil maak en bo my omstandighede uitstyg. Ek wou die persepsies verander waar ‘plaaskinders’ as randfigure gemarginaliseer word,” verduidelik Danalene.
Vandag ploeg sy terug in die Wellington-gemeenskap.
Die Winnie Rust-prys is juis in Vrouemaand toegeken sodat die dapper vroue, wat 9 Augustus 1956 in hegtenis geneem is, herdenk kan word.
Wellington se vroue het deur die jare bewys dat hulle in staat is om bo hul omstandighede uit te styg.
Só is Winnie Rust geïnspireer deur ’n vrou soos Martha Solomons, Suid-Afrika se eerste swart hertogin, wat die titel gedra het van “Countess of Stamford”. Winnie is verder geïnspireer deur die formidabele vroue van die Seminarie.
“Hier dink ons veral aan Abbie Ferguson, Anna Bliss en Mary Cummings. Daar was ander vroue ook soos Emma Murray (die vrou van dr. Andrew Murray), Charlotte Cupido en Winnie se eie ma, Margery, om maar enkeles te noem,” vertel Christine.
By die geleentheid was minister Sharna Fernandez (Wes-Kaapse minister van die departement van maatskaplike ontwikkeling) die gasspreker.
Winnie Nel (wyle Rust se dogter), Mia Nel (familie van Winnie), dr. Elena von Schlicht (burgemeester) en Lena Reid (raadslid) was ook teenwoordig. Ander eregaste was onder andere Albertus en Dalene Buckle. • Winnie Rust is op 11 Mei 2016 van haar geliefdes weggeruk toe ’n talentvolle jong atleet, Nigel Plaatjies, wat sy geborg het, en sy oom Johannes Plaatjies haar in haar huis vermoor het.