’n Vrou van iets in die twintig is Saterdag (19 November) in die oggendure na bewering deur haar gewese kêrel van ’n plaas in Agter-Paarl af ontvoer.
Volgens ’n inwoner van die plaas waar die voorval afgespeel het, is die vrou Sondag ongedeerd gevind. Hy wou nie sy naam of die naam van die plaas bekend maak nie. Die inwoner het egter bygevoeg dat die slagoffer steeds erg getraumatiseer is.
Kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, het die ontvoering bevestig en gesê ’n klagte is by die polisiekantoor aangemeld.
“Die Paarl-polisie het Saterdag (19 November) ’n soektog na ’n vrou van ’n plaas in die Agter-Paarl-omgewing begin nadat sy na bewering Saterdag in die vroeë oggendure deur haar gewese kêrel ontvoer is. Die verdagte het toegang tot die vrou se slaapkamer verkry deur ’n deur af te breek en haar met ’n mes uit die huis gedwing. Die voorval is aangemeld en ’n soektog na die vrou het gevolg.”
Familielede het die slagoffer die volgende dag (Sondag 20 November) gesien waar sy en die verdagte by die N1-kruising in Klapmuts gestaan het.
“Hulle het daarin geslaag om haar te bevry en in ’n voertuig na veiligheid te neem. Die verdagte het gevlug. Hy is steeds op vrye voet en die ondersoek duur voort vir sy inhegtenisneming.
“Die slagoffer het geen beserings opgedoen nie en ’n volledige verklaring van die gebeure is verskaf,” voeg Du Plessis by.
- A woman in her early twenties was allegedly kidnapped by her ex-boyfriend on a farm in Agter-Paarl during the early morning hours on Saturday (19 November).

