‘n Vrou is in ‘n kritieke toestand nadat sy Donderdagaand na bewering deur haar ekskêrel aan die brand gesteek is.
Die voorval het tussen 19:30 en 23:00 in die Zu’ Bar restaurant op Wellington gebeur. Daar word beweer dat die 37-jarige verdagte en sy voormalige vriendin, wat glo as kroegdame by die restaurant werk, in ‘n rusie betrokke was. Die man is gevra om die restaurant te verlaat.
Hy het later teruggekeer, glo met ‘n oranje houer in sy besit, volgens die polisie.
Hy het na bewering die vloeistof, vermoedelik brandstof, op haar uitgegooi en toe ‘n vuurhoutjie aan die brand gesteek en na haar gegooi.
Sy is deur twee mans na die Paarl-hospitaal geneem.
Die hospitaal het bevestig dat ‘n vrou met ernstige brandwonde ingebring is en tans in ‘n kritieke toestand verkeer.
Die verdagte het homself glo na die voorval aan die polisie oorgegee en verskyn Maandag op aanklag van poging tot moord in die Wellington-landdroshof.