Noudat die somervakansie verby is en skole heropen het, fokus baie ouers op skoolbenodigdhede – maar volgens dr. Ockert Bekker van Bekker Dental & Aesthetics, wat ook ‘n tak in die Paarl bedryf, behoort kinders se gebit egter net soveel aandag te kry – en dit reeds van so jonk as twee jaar oud.
“Melktande is dalk tydelik, maar die skade wat plaak in die vroeë jare kan aanrig, kan blywende gevolge hê – nie net vir melktande nie, maar ook vir die ontwikkeling van permanente tande,” sê Bekker in ‘n verklaring.
Plaak (‘n taai bakteriële lagie) kan selfs op peuters se tande vorm. Indien dit nie betyds behandel word nie, produseer dit sure wat tandemalje beskadig en kan dit tot gaatjies, infeksies en in ernstige gevalle selfs tandheelkundige behandeling onder algemene narkose lei.
“Dit kan skokkend wees vir ouers om te hoor dat hul kind moontlik narkose benodig vir tandheelkundige werk, maar baie van hierdie gevalle is voorkombaar met vroeë sorg,” verduidelik hy.
Bekker gee die volgende praktiese wenke aan ouers:
- Tandartsbesoeke van tweejarige ouderdom af: Vroeë ondersoeke stel tandartse in staat om risiko’s te monitor, ouers op te voed en ‘n voorkomende plan saam te stel.
- Volgehoue mondhigiëne: Borsel tande twee keer per dag met ‘n sagte tandeborsel en ouderdomstoepaslike tandepasta. Om tande te vlos, kan volgens die tandarts se voorskrifte bekendgestel word. Hierdie gewoontes help nie net om plaak te voorkom nie, maar vestig ook goeie mondgesondheid vir later jare.
- Gesonde dieet: Beperk soet versnaperinge en drankies – veral voor slaaptyd. “Ons sien steeds kinders wat met sap in hul bottels gaan slaap. Snags het tande geen manier om hulself te beskerm nie en hierdie hoë-suiker drankies veroorsaak groot skade in die mond,” waarsku Bekker.
- Ouertoesig: Ouers moet seker maak dat kinders korrek borsel en self ‘n voorbeeld van goeie mondgesondheidsgewoontes stel.
“Met vroeë besoeke en eenvoudige daaglikse gewoontes kan ons die meeste gaatjies voorkom. Dikwels vertrou ons op ouers om hul kinders by die tandarts te kry en ná die eerste besoek is die meeste kinders opgewonde om terug te kom.”


