’n Besoek aan die Hugenote-gedenkmuseum in Franschhoek is een van die groot toerisme-aantreklikhede vir besoekers aan die dorp.
Die museumkompleks bestaan uit die pragtige Saasveld-gebou, die indrukwekkende Hugenote-monument en -tuin, die museum se bygebou, natuurtuin, eerste SA parfuummuseum asook die parfumerie met sy beeldhou-tuin.
Vir die eerste keer sedert die stigting van die museum in 1960, 64 jaar gelede, is daar onlangs ’n ondersteuningsgroep op die been gebring met die doel om die museum se belange, ook met geld insamelingsprojekte, te ondersteun. Dié groep – die Vriende van die Hugenote Gedenkmuseum – het reeds opwindende gemeenskapsaamtrekke en -projekte beplan wat daar aangebied sal word.
Die groep nooi alle inwoners van Franschhoek en omgewing, beide Suid-Afrikaners en buitelanders, om betrokke te raak en hierdie geskiedkundige juweel te ondersteun.
. Skakel Ingrid Maritz by 072 226 9158 vir meer inligting.