Ouers van leerders by die Noorder-Paarl Hoërskool wat glo deur ’n medeleerder geteister is, is bekommerd nadat hy onlangs teruggekeer het skool toe nadat hy tyd in ’n gevangenis deurgebring het.

Een van die ouers voer aan dat die 18-jarige verdagte interdikte teen sy slagoffers bekom en dit misbruik. Die seun het na bewering ook ’n meisie by die einste skool gemolesteer.

“Hy was ’n ruk lank in die gevangenis. Wat hy maak is, hy gaan kry interdikte teen die kinders en dan maak hy valse beskuldigings teen hulle sodat hulle in hegtenis geneem kan word. Volgens die klong het hy en my kleinkind vir drie jaar saam gewoon in ’n huis. ’n Huis wat net hy alleen van weet.

“Verlede week het hy weer vir die eerste keer teruggekeer skool toe nadat hy in die gevangenis aangehou is.

“Sy slagoffers by die skool is in ’n toestand omdat hy weer op die skoolterrein is. Daar was ’n byeenkoms en almal moes glo vir hom hande klap as ’n terugverwelkoming.

“Sy slagoffers het geweier om die saal binne te gaan. Die kinders is baie senuweeagtig met hom daar, want hulle weet waartoe hy in staat is.”

Navrae oor die ouers se bekommernisse is aan die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gestuur.

Millicent Merton, ’n woordvoerder van die departement, het in haar terugvoer aan Paarl Post dit duidelik gemaak dat die seun teen wie die ernstige aantygings gemaak word glad nie ’n spesiale terugverwelkoming gekry het nie.

Volgens Merton is daar reeds vroeër vanjaar tugstappe teen die betrokke leerder geneem ná afsonderlike onderonsies met twee leerders.

“Die skool het gereël vir intervensie en ondersteuning vir die leerders,” sê Merton.

“Die leerder was vir ’n geruime tyd afwesig van die skool en voor sy terugkeer skool toe op Maandag 29 Mei het die skoolhoof (Natalie Arendse) met die twee leerders vergader om hulle in te lig oor sy terugkeer en om hulle die nodige emosionele ondersteuning te bied om die situasie te hanteer. Die skool het nie ’n spesiale verwelkoming vir die leerder gereël toe hy teruggekeer het skool toe nie.”

Nathan Johnson, staatsaanklaer by die Paarl-landdroshof, kon nie bereik word om kommentaar te lewer oor die strafregtelike sake waarin die 18-jarige leerder aangekla is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.