Talle onderwysers in die Wes-Kaap vrees hul werk is in die gedrang weens die besnoeiing van die onderwysbegroting wat deur die nasionale regering opgelê is.
David Maynier, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het onlangs in ’n verklaring gesê die paniek en verwarring wat onder onderwysers ontstaan het, is as gevolg daarvan dat die feite verdraai word.
“Ons het in werklikheid meer onderwysers in diens geneem om ons visie te lewer, wat gehalte-onderrig is vir elke leerder in elke klaskamer in elke skool in die Wes-Kaap.
“Ons het in 2022-’23 nog 890 onderwysers in diens geneem en in 2023-’24 nog 1 143 onderwysers, wat die grootste uitbreiding van die onderwyspersoneel in die Wes-Kaap was.
“Waar onderwysers se kontrakte hul einddatums bereik het, word werwings- en keuringsprosesse versnel om vakante poste te vul met onderwysers wat permanent aangestel sal word.”
Om die skole in die provinsie verder te ondersteun, sê Maynier, het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) reeds 3 100 onderwysers, wat voorheen op kontrak gewerk het, permanent aangestel; 2 282 kontrakte van onderwysers is verleng tot die einde van die jaar; en die departement is besig om die werwing van nog 1 613 onderwysers te versnel.
“Ons doen alles wat ons kan om ons skole na aanleiding van die massiewe begrotingsbesnoeiings wat deur die nasionale regering opgelê is, te beskerm om gehalte-onderwys aan al ons leerders in die Wes-Kaap te lewer,” voeg Maynier by.
Ten spyte van wat Maynier sê, is daar plaaslike skole in Paarl-Oos wat direk geraak word. Paarl Post het met twee skole, ’n hoërskool en ’n laerskool, in die gebied gesels oor die nuwe verwikkelinge. Albei skole verkies om op ’n anonieme basis met die koerant te praat.
Die hoërskoolonderwyser het reguit gepraat oor die gevolge wat die skool nou moet deurmaak as gevolg van die besnoeiings.
“Ons skool is erg geraak deurdat vyf onderwysers wat op kontrak werk, se poste opgeskort is. Dit het die gevolg gehad dat ons die onderwysers, wat broodnodig is, beheerliggaamposte moes aanbied.
“Die gevolg hiervan sal finansiële implikasies hê, wat die skool in ’n baie moeilike situasie plaas. Met die onlangse gebeure en die feit dat ons ’n geen-skoolfonds-skool is, is die toekoms donker.”
Die laerskoolonderwyser het ook erken dat hul skool direk geraak word.
“Oor die algemeen kan ons skole in Paarl-Oos nie beheerliggaamposte bekostig nie. By die laerskole beteken dit dat die res van die onderwysers die onderwysers wie se kontrakte beëindig is, se klasse moet absorbeer. Die klasse sal dan amper 60+ leerders in ’n klas wees.
“Hoe bereik ons die leerders op die verskeie vermoënsvlakke indien ons meer oorvol klasse het? Weer eens, die kurrikulumagterstande en -gapings wat Covid-19 reeds nagelaat het, word al groter. Die Trep-model soos gedurende Covid-19 wat gevolg is, gaan gewis nie werk nie. Kontrakposte moet heringestel word. Die skoolverlatingsyfer gaan groter word asook misdade en werkloosheid veral by hoërskole in ’n groter mate.
“By ons skool het ons betyds sommige posvlak 1-opvoeders omgeskakel van kontrak na permanent. Met motivering is van die kontrakposte tot 31 Desember verleng.”