Die span van Vredenburg-Saldanha het Saterdag op Bolandpark in die Paarl bewys hy is die onbetwiste Boland-T20-kampioen toe hy die Gemeenskapsbeker, wat hy verlede jaar met Worcester United gedeel het, behou het.
Paarl (103/8) het eerste gaan kolf en Akeem Minnaar (33) moes walgooi ná twee vinnige deurbrake deur die Vissermanne. Slegs Darryl Hendricks (18) en Liam Muller (16) kon verder hond haaraf maak teen die akkurate boulwerk van Vredenburg-Saldanha se Devon Smith (4-0-10-3), wat goeie bystand gekry het van Imran Manack en Avi Migijima. Paarl kon net 103/8 aanteken
Met die Vissermanne agter die kolf het die Paarlse kaptein, Adrian du Toit, die besoekers vroeg op die agtervoet geplaas deur twee vinnige paaltjies te laat val. Quinton Kannemeyer (22), Neil Lochner (26) en Migijima (23) het egter die wa deur die drif gesleep vir ’n welverdiende oorwinning vir die Weskussers met drie paaltjies nog staande.
Paarl II het egter die klub se eer in die voorwedstryd gered met ’n oortuigende nege-paaltjie-oorwinning oor Vredenburg-Saldanha II.
Die besoekers is in 16.2 boulbeurte vir slegs 75 uitgeboul danksy ’n briljante vertoning deur Alfredo Adams (4-0-10-5). Taigh Schoor (4-0-26-2), Herschelle Davids (4-0-18-2) en Cullen Heugh (3.2-0-18-1) het gesorg vir die res. Chris Jooste (15) het die beste met die kolf gevaar.
Jaywin Solomons (51 n.u.n. 7×4), ’n linkshandige aanvangskolwer, het met ’n foutlose vertoning, wat die wind uit die Krewe se seile gehaal het, weer gewys waarom hy verlede jaar as Paarl se mees belowende jong speler aangewys is.
Sy eerstepaaltjievennootskap van 50 lopies met Leswin Titus (17) het die grondslag vir die sege gelê, wat in slegs 8.1 boulbeurte behaal is.. Paarl speel Saterdag tuis teen Worcester United, terwyl Paarl II na Worcester reis.




