Rofweg ’n jaar nadat die Bainskloofpas heropen is, sit vragmotors wat die pas se hoogtebeperkings ignoreer, steeds vas – veral by Dacre se Preekstoel net ná die Tweede Tol-kampterrein, asook by Gawie se Water.
’n Vragmotor het verlede Donderdag (26 Oktober) die tweede keer in Oktober vasgesit, wat veroorsaak het dat die pas lank gesluit was totdat die voertuig verwyder kon word.
Volgens Andy Connell, ’n inwoner wat in die Bainskloofpas-gebied woon, is dit ’n gereelde gebeurtenis, en sy kameras het dié vragmotor teen middernag op 26 Oktober afgeneem.
Connell sê die vragmotors was by Gawie se Water gestrand – sowat 5 km buite Wellington en ongeveer 220 km van die R43 af.
Volgens Connell het hy van Ceres in die rigting van Wellington gery toe hy die vragmotor gewaar het en ook in die verkeer vasgevang was.
Paarl Post het reeds ’n jaar gelede oor die probleem berig dat die beperkings – ’n hoogte van 3,87 m en ’n lengte 9 m – duidelik by die begin aan albei kante van die pas sigbaar is.
Volgens Connell was die vragmotor wat op 26 Oktober vasgesit het, langer as 20 m.
Logistieke maatskappye bly dié beperkings ignoreer en veroorsaak onnodige verkeersopeenhopings vir veral motoriste wat op die pas bly en die pad elke dag moet ry.
Volgens Jandré Bakker, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur, het die pas verskeie skerp draaie wat die rede vir die beperkings in hoogte en lengte is.
Dié draaie is ook die rede hoekom die pas vir ure aaneen gesluit word wanneer ’n vragmotor vassit, omdat dit vir kilometers ver agteruit moet ry, wat baie tyd verg.
“Dit is omdat hierdie agteruitryery twee bane vereis dat die pas by tye vir ander voertuie gesluit word en groot frustrasie veroorsaak,” het Bsakker per e-pos verduidelik.
“Die vorige Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke (nou die departement van infrastruktuur en die departement van mobiliteit) het versoeke by GPS-toepassings ingedien om waarskuwings op kaarttoepassings (soos Google Maps) te voeg,” verduidelik Bakker.
“Om ’n permanente struktuur met ’n laer vaste hoogte te bou [by die ingange van die pas] sal nie prakties wees nie, aangesien daar gebiede is waar swaar motorvoertuie toegang tot die pas moet verkry,” het hy ook in sy e-pos aan Paarl Post gesê.
’n Infrastruktuur-reaksiestelsel met betrekking tot lengtebeperkings is nie so maklik nie.
Bakker verduidelik dat die departement van infrastruktuur nog nie groot skade aan die pas gehad het sedert die opening om en by ’n jaar gelede nie, maar dat hulle wel die bestuurder of logistieke maatskappy finansieel verantwoordelik sal hou indien groot skade aangerig word.


