Nog ’n vragmotor het Donderdag 18 Julie in die Bainskloofpas vasgesit en die pad versper ondanks verkeersreëls wat swaarvoertuie in die pas verbied.

Vragmotormaatskappye en -bestuurders wat die reëls verontagsaam en kortpad deur Bainskloof kies, ten koste van die skilderagtige, historiese pas, is lankal vir belangegroepe ’n probleem.

Die organisasie wat tot in 2017 probeer het om die Bainskloofpas te beskerm, die Vriende van Bainskloofpas, se stigter, Sieg Kröger van Wellington, sê die pas word te veel misbruik en te min plaaslike rolspelers toon belangstelling om dit te help beskerm.

Hoewel die organisasie ontbind is en hul geld wat oorgebly het aan Cape Nature geskenk is, is Kröger steeds ’n kenner wat bekommerd is oor die skade wat die pas aangerig word.

Hy is van mening dat polisiëring om verkeer in die pas te reguleer skraps is. Owerhede doen ook te min opvolgwerk oor die toestand van die pas.

Vragmotors wat die pad onwettig gebruik is volgens hom ietwat meer onder beheer as in die verlede, maar hy sê ’n mens kan aan die randstene sien dat daar steeds vragmotors is wat die pas gebruik en beskadig.

Hy verduidelik dat ’n 9 m lange vragmotor met 26 wiele nie de pas se skerp draaie kan maak nie en beskryf dit as “absoluut gevaarlik” vir so ’n vragmotor om dit aan te durf.

Kröger sê vragmotors gebruik die pas as ’n korter alternatief oor die berge asook ’n goedkoper alternatief vir die duur tolpad op die N1 deur die Hugenotetonnel.

Dit is nie die eerste keer dat Paarl Post oor vragmotors in die Bainskloofpas berig nie. In 2009 het ’n vragmotor wat ’n u-draai in die pas probeer maak het, veroorsaak dat die pas vir ’n halwe dag gesluit moes word.

Die jaar vantevore is berig oor vragmotors wat vrag in die pas se skerp draaie verloor het.

Kröger is verder bekommerd oor rommel wat langs die pad gestrooi word – op die oog af lyk dit nie so erg nie, maar sodra ’n mens teen die kranse afkyk, lê vullis die pas vol. “Ek probeer maar mooi met mense praat oor rommelstrooi,” sê hy.

Cape Nature sê hulle “veroordeel die gebruik van die pas deur swaar motorvoertuie in die sterkste sin van die woord”.

Die organisasie herinner die publiek dat die hele Bainskloofpas ’n nasionale monument is en as deel van Suid-Afrika se erfenis bewaar word. Wanneer vragmotors omval, stort hulle diesel en besoedel hul vragte die natuur.

Die organisasie sê strenger maatreëls is nodig, soos boetes wat oortreders opgelê word.

Cape Nature glo ook die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronne-agentskap behoort ’n groter rol te speel om die pas te beskerm.

Paarl Post het navrae aan die provinsiale verkeershoof, Kenny Africa, gerig maar het teen druktyd geen terugvoering ontvang nie.

.

Yet another truck got stuck in Bainskloof Pass on Thursday, 18 July and the subsequent road closure had motorists furious. Concern about damage to the pass – a National Monument – and its natural surroundings is ongoing. Concerned individuals and organisations are calling for more effective control.

You need to be Logged In to leave a comment.