’n Ongeluk gistermiddag (16 Januarie) waarin ’n vragmotor wat seisoenale plaasarbeiders vervoer het, op die N7, sowat ’n klipgooi buite Piketberg in die rigting van Moorreesburg, omgeslaan het, het talle beseer gelaat.
Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het die ongeluk bevestig.
Volgens Van Wyk was daar 11 mans en 20 vrouens beseer.
Die vragmotor was glo besig om plaaswerkers vanaf ’n plaas naby Piketberg na Riebeeck-Wes, waar hulle woonagtig is, te vervoer.
“Noodpersoneel was onmiddellik op die toneel en het die beseerdes bygestaan. Die beseerdes is na ’n nabygeleë hospitaal in Piketberg geneem en van daar na verskeie ander hospitale in Bellville en Malmesbury oorgeplaas. Een vrou is per lugambulans na Kaapstad vervoer.”
’n Saak van dronkbestuur asook roekelose en nalatige bestuur is by die Piketberg-SAPS geopen vir verdere ondersoek.
Volgens Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die Rural and Farmworkers Development Organisation, is die beseerde plaasarbeiders in verskillende hospitale opgeneem. Twee van die werkers het ernstige beserings opgedoen.
Claasen het gesê die twee persone wat ernstig beseer is was in die vragmotor vasgekeer en moes deur paramedici uit die wrak bevry word. Een van die werkers is per helikopter na Tygerberg-hospitaal vervoer nadat hy glo albei sy bene in die ongeluk vergruis het.

Daar was na bewering meer as 70 seisoenale arbeiders op die vragmotor ten tyde van die ongeluk. Al die werkers was glo in diens van ’n druiweplaas in die Piketberg-omgewing en bly in Mbekweni buite die Paarl, het Claasen gesê.
Volgens hom het die vragmotor na bewering beheer verloor, oor die pad geskuur en uiteindelik op sy sy tot stilstand gekom.
Claasen het verder beweer dat ’n aantal van die werkers ongedokumenteerde immigrante is, en dat sommige ná die ongeluk van die toneel gevlug het uit vrees vir arrestasie.
West Coast Medical Rescue, ‘n private nooddiens wat op die ongelukstoneel was, het op sy Facebook-blad gesê dat meer as 35 pasiënte op die toneel behandel is vir geringe tot kritieke beserings.
“Hierdie voorval ontbloot weereens die sistemiese minagting vir die veiligheid, waardigheid en lewens van plaasarbeiders. Oorvol en onveilige vervoer het ’n dodelike norm in die landbousektor geword, aangevuur deur arbeidskontrakteurs en sommige boere wat steeds wins bo menselewens stel,” volgens ‘n verklaring deur die Rural and Farmworkers Development Organisation.
“Plaasarbeiders is nie vrag nie. Hulle is mense wat veilige, gereguleerde en waardige vervoer na en van hul werkplekke verdien. Hierdie herhalende voorvalle is nie ongelukke nie – dit is die voorspelbare gevolg van nalatigheid, swak toepassing en uitbuiting van die wet.”
Die Rural and Farmworkers Development Organisation het in sy verklaring ‘n beroep gedoen op die departement van indiensneming en arbeid, die departement van vervoer, die Suid-Afrikaanse polisiediens, landbouliggame en arbeidsinspekteurs om hierdie voorval te ondersoek.
Hierdie berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.



You must be logged in to post a comment.