Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images


Die Paarl-Wes- gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het vandeesweek gesê die Drakenstein-munisipaliteit sal moet pa staan vir enige geweld en misdadige aktiwiteite wat by nagklubs in die Paarl uitbreek.

Dit volg nadat die munisipaliteit die handelsure van sewe kuierplekke die afgelope jaar verleng het, ondanks kommer oor ’n gebrek aan genoeg polisie en wetstoepassers om reg en orde te handhaaf.

Volgens die GPF plaas hierdie verlenging van sommige klubs en kroeë se handelsure tot vieruur die oggend nou verdere druk op ’n reeds onderbemande Paarl-polisiediens.

Die veiligheid by die dorp se kuierplekke is onlangs weer in die kollig geplaas toe Geoffrey Fredericks (32) by die Frendo’s-kroeg in Jan van Riebeeckweg vermoor is. Dié voorval het omstreeks 01:00 verlede Sondagoggend (25 Augustus) plaasgevind.

Fredericks het met sy aankoms by die Paarl-hospitaal gesterf.

Paarl Post het intussen betroubaar verneem dat Fredericks met ’n mes aangeval is, ondanks die feit dat die drankwet voorskryf dat kuierplekke die nodige sekuriteit by hul ingange moet hê.

Van die verwagte verantwoordelikhede van sulke sekuriteit sal wees om te verseker dat geen wapens die perseel binnegaan nie.

Ingevolge die Drakenstein-munisipaliteit se drankwet van 2013 mag kroeë soos Frendo’s en ander wettige nagklubs tussen 11:00 die oggend en 02:00 die volgende oggend handel dryf.

Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir beplanning en korporatiewe dienste, het egter verlede week aan Paarl Post onthul dat kuierplekke die opsie het om hul handelsure tot 04:00 te verleng en dat hierdie aansoek dan vir ’n jaar geldig is.

Hy sê die munisipaliteit het tussen Junie 2023 en Junie vanjaar altesaam sewe sulke aansoeke ontvang.

“Vir handelsure om verleng te word, moet die korrekte sonering ingestel wees, brandveiligheids­inspeksies moet geslaag word en kommentaar word van wyksraadslede versoek.”

Juan Bester, ’n woordvoerder by die Paarl-Wes-GPF, het vandeesweek egter gesê hierdie konsultasie waarna die munisipaliteit verwys, het glo nooit met die onmiddellike gemeenskappe plaasgevind nie.

“Die Paarl-Wes-GPF het bekommernisse ontvang van inwoners wat naby die nagklubs en kroeë woon, met betrekking tot geraassteurnis, voertuie wat in die paaie wiele spin en jaag, openbare drankmisbruik en die risiko van misdaad.

“As ’n GPF ontvang ons beide dranklisensie-aansoeke en aansoeke vir die verlenging van handelsure van die Paarl-Wes-polisie vir ons insette. Ons het ons bekommernisse geopper oor die goedkeuring van die verlengde drankure aan die polisie sowel as die munisipaliteit. Ons is in besit van e-posse van die munisipaliteit oor waarom die verlenging toegestaan is, maar sommige van die redes is teenstrydig met die huidige munisipale verordeninge,” sê Bester. Volgens hom is die verlengde handelsure bevorderlik vir misdaad wat verband hou met alkoholmisbruik.

“Oor die algemeen is ons eintlik ook maar bekommerd oor die min hulpbronne van wetstoepassing en die polisie. Die ure word verleng, maar het ons die nodige hulpbronne om reg en orde te handhaaf?

“Ons verstaan dat munisipale wetstoepassers slegs tot ’n bepaalde tyd in die oggend werk, waarna die polisie alleen verantwoordelik is vir die handhawing van reg en orde,” benadruk hy.

Johaar het egter volgehou dat die eienaar van enige kuierplek die nodige sekuriteitsmaatreëls moet tref.

“Hulle is verplig om slegs geregistreerde sekuriteitspersoneel en/of uitsmyters in diens te neem. Die munisipaliteit sal sy nakomingsinspeksies met betrekking tot gebouregulasies verhoog, veral rakende geraas en veiligheid,” sê Johaar.

Intussen is niemand nog vir Fredericks se moord in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.