Die gesin van Xavier April (17), wat verlede week vir drie dae vermis was voordat sy gesin hom by die lykshuis moes gaan uitken, sê hulle soek antwoorde oor die omstandighede rakende sy dood nadat hy glo op die R44-pad naby Hermon doodgery is.
Katie April, sy ma, het aan Paarl Post gesê hy is Saterdag (17 Februarie) van die huis af na ’n plaaslike rugbywedstryd in die omgewing.
“Toe hy later daardie dag nie huis toe kom nie, het ek vir een van sy vriende gevra waar my kind is. Hy sê toe vir my Xavier het op ’n lorrie geklim.
“Ons het Saterdag heelnag die polisie in die hande probeer kry. Hulle het een keer die foon geantwoord en belowe dat hulle ’n van (polisievoertuig) sou stuur. Daai van het nooit opgedaag nie,” vertel sy.
Die familie woon op die plaas Landau in Hermon, wat onder die Wellington-polisiekantoor val.
April sê sy het die Maandagoggend voordat sy werk toe is, weer die polisie se tolvrynommer geskakel, waarna sy glo weer gesukkel het om by hulle uit te kom.
“Die manne is ook toe hier deur polisiestasie toe, aangesien ons hulle al van die Saterdag af hier probeer uitkry. Ek het toe omstreeks agtuur Maandagoggend weer probeer bel en dié keer wel by hulle uitgekom. Hulle het gesê indien die beamptes steeds nie opdaag nie, moet ek later daai dag na die stasie toe gaan met ’n foto van hom, wat ek toe gedoen het.”
Xavier is die Maandag as vermis aangemeld en foto’s van hom is dadelik op sosiale media versprei.
April vertel dat hulle die Dinsdag tydens hul besoek aan die plaaslike speurtak ingelig is oor iemand wat oor die naweek op die R44-pad doodgery is.
Die gesin is toe na die lykshuis geneem waar hulle Xavier se lyk uitgeken het.
“Ons verstaan dat hy daardie Saterdag doodgery is. Daar is nog nie veel inligting aan ons gegee oor presies wat gebeur het nie. My kind is egter nie meer met ons nie.
“Hy was daardie Vrydag nog so gelukkig hier by die huis. Hy het grappe gemaak en drukkies uitgedeel,” vertel sy.
Sy sê die ondersoekbeampte wat die saak hanteer, het aangedui dat hulle nog wag op die uitslae van die forensiese verslag en lykskouing.
Kol. Johan Barkhuizen, ’n woordvoerder van die Wellington-polisiekantoor, het by navraag gesê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Volgens Barkhuizen het die voorval omstreeks 21:45 Saterdagaand plaasgevind.
Willemien April, Xavier se ouer suster, het in ’n emosionele Facebook-inskrywing hulde aan haar broer gebring.
“As ek geweet het jy kom nie terug nie, het ek jou by die huis gehou. Woorde kan nie beskryf hoe ek voel nie. My hart is gebreek.
“Ek sal jou pragtige glimlag onthou. Ek sal jou nooit vergeet nie, my boetie,” lui die inskrywing.
Xavier word Sondag (3 Maart) ter ruste gelê.


