Edward Levine (66) het verlede Dinsdag (5 November) omstreeks 07:30 in Piet Retiefstraat in Wellington inmekaar- gesak en kort daarna op die sypaadjie gesterf, ten aanskouing van talle inwoners en ander pendelaars.
Dit is volgens kol. Johan Barkhuizen, ’n woordvoerder van die Wellington-polisie, en Byron La Hoe, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid.
Wat die Wellington-gemeenskap egter verder geskok het, is dat Levine se toegegooide liggaam vir ’n paar uur op die sypaadjie gelê het voordat begrafnisondernemers dit eers omstreeks 15:00 verwyder het.
Verskeie rolspelers met wie die Paarl Post gesels het, meen egter die korrekte prosedures is in dié verband gevolg en goeie dienslewering is wel toegepas.
Die koerant het uitgevind hoe hierdie prosedures werk in geval van ’n natuurlike dood, soos in Levine se geval.
Volgens Leatitia Cupido, wat op ’n weeklikse basis die sakekern van Wellington vrywillig patrolleer, het Levine sy Sassa-geld onttrek en is ’n paar minute daarna deur ’n motoris gewaar wat gesien het dat iets nie pluis is nie, en wat Levine bygestaan het totdat hy dood is.
Die polisie is na bewering dadelik ontbied, waarna die ambulansdienste omstreeks 07:45 op die toneel aangekom het, volgens La Hoe.
Hy het verduidelik dat ’n liggaam in die geval van ’n natuurlike dood eers na ’n lykshuis geneem word nadat alle partye, insluitend die plaaslike polisie asook die ambulansdienste, klaar is met hul ondersoek om die oorsaak van dood vas te stel.
Dít opsigself kan lank neem, het La Hoe gesê.
Die feit dat dit ook moeilik was om Levine se familie op te spoor omdat hulle van sy dood verwittig moes word en hulle hom moes uitken voordat sy liggaam na die lykshuis geneem is, het die proses ook uitgerek, wat veroorsaak het dat sy liggaam langer op die perseel waar hy dood is, moes lê.
Volgens omstanders het die Wellington-polisie nie die liggaam bedek nie, en maar dit ook nie alleen gelos nie.
Stephan Landsberg, ’n VF Plus-raadslid in Wellington, het gesê die korrekte prosedures is gevolg, al het dit lank geneem.
Hy het verduidelik dat ambulansdienste nie ’n lyk in die geval van ’n natuurlike dood kan verwyder nie – dit kan slegs deur ’n begrafnisondernemer gedoen word.
Wat bygedra het tot die lang wag, is ook omdat Levine se familie, nadat hulle opgespoor is, uit die Kaap gery het om sy lyk uit te ken.